space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes)
space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes)
space.gif (42 bytes) Die rol van die professionele beheerliggaamslid
Ben Marx
MCompt GR(SA)

Desiré Vorster
MCom GR(SA)

Ben Marx en Desiré Vorster is beide Professore aan
die Randse Afrikaanse Universiteit

Die veranderde samelewing, behoeftes en hulpbronne van opvoedkundige inrigtings het gelei tot drastiese veranderings in die wyse waarop opvoedkundige inrigtings bestuur en beheer word.

Hiermee saam het die onderskeie pligte en verantwoordelikhede van die verskillende rolspelers, nl. onder andere die onderwysdepartement, die beheerliggaam van sodanige inrigtings en die skoolhoofde (of uitvoerende amptenare) drasties verander.

Verskeie professionele mense, waaronder geoktrooieerde rekenmeesters, dien dikwels op die beheerliggame of direksies van sodanige opvoedkundige inrigtings weens hulle kundigheid. Dit is egter krities noodsaaklik dat sodanige persone besef wat hulle pligte en verantwoordelikhede behels sodat dit sinvolle samewerking met die skoolhoof (in die Skolewet van 1996, hierna genoem die wet, na verwys as prinsipaal) bevorder, en nie tot konflik aanleiding gee nie.

In die artikel sal kortliks gefokus word op die onderskeie rolle van die skoolhoof en die beheerliggaamslid/direksielid.

Formaat van skole as opvoedkundige inrigtings

Skole bestaan hoofsaaklik uit twee vorme, nl. ’n staatsskool (in die wet beskryf as ’n openbare skool), of ’n privaatskool (in die wet genoem ’n onafhanklike skool).

Privaatskole funksioneer dikwels as geïnkorporeerde entiteite onder artikel 21 van die Maatskappywet, (Wet 61 van 1973, hierna die Maatskappywet genoem) nl. verenigings ingelyf sonder winsoogmerk. Dit opsigself bring addisionele statutêre pligte en verantwoordelikhede mee vir die beheerliggaamlid, wat nou as direkteur van ’n maatskappy (die skool) optree.

Die beheerliggaam en die skolewet

Die onderskeie rolle, pligte, magte en verantwoordelikhede van ’n beheerliggaam word in die Skolewet van 1996 uiteengesit. Ingevolge die wet het beheerliggame die reg om die skoolbeleid te bepaal en probleme in ’n skool te hanteer. Beheerliggame het ’n groot mate van diskresie oor kwessies soos skoolgeriewe, skoolgeld, godsdiensonderrig en taal. Hoewel kinders by openbare skole nie weggewys kan word omdat hulle nie skoolgeld kan betaal nie, moet beheerliggame geld vrylik kan invorder en regstappe kan neem teen ouers wat kan, maar nie wil betaal nie.

Beheerliggame bepaal die beleid in ooreenstemming met die wet en bestuur die skool, terwyl die daaglikse bestuur van die skool die verantwoordelikheid van die hoof van die onderwysdepartement is (in die wet genoem die departementshoof). Die hoof van die departement delegeer magte vir die doeltreffende en professionele bestuur van die skool aan die skoolhoof.

Die hoofpligte van beheerliggame is om die belange van die skool te bevorder en om onderrig van gehalte te verskaf. ’n Beheerliggaam moet onder meer nadat hy verkies is ’n grondwet opstel wat aan die hoof van die onderwysdepartement voorgelê word. Die beheerliggaam moet ook ’n verklaring van die skool se missie ontwikkel en ’n gedragskode opstel. Die beheerliggaam moet ook onder andere jaarliks ’n begroting opstel, ’n skoolfonds skep en administreer. Die beheerliggaam moet elke drie maande vergader en die hoof, onderwysers en personeellede ondersteun.

Wat die magte van die beheerliggaam betref, is dit die liggaam wat daarvoor verantwoordelik is om die skooleiendom in stand te hou en boeke, opvoedkundige materiaal en ander toerusting te koop. Die beheerliggaam bepaal die toelatings- en taalbeleid en moet verseker dat dit in ooreenstemming is met die wet. Die beheerliggaam stel skoolgeld ná oorleg met ouers vas en besluit onder meer ook oor buitemuurse bedrywighede. Die beheerliggaam moet genader word as die gemeenskap skoolgeriewe wil gebruik en billike tariewe moet vasgestel word. Die hoof van die onderwysdepartement kan ’n beheerliggaam onthef indien hy versuim om sy pligte uit te voer.

Statutêre oorwegings

Verskeie privaatskole (in die wet geag ’n onafhanklike skool te wees) funksioneer as artikel 21 maatskappye, nl. verenigings sonder winsoogmerk ingelyf as maatskappye sonder aandelekapitaal met die aanspreeklikheid van sy lede deur die akte van oprigting beperk (in die maatskappywet genoem ’n maatskappy beperk deur garansie).

’n Maatskappy beperk deur garansie word geag ’n publieke maatskappy te wees en alle vereistes van publieke maatskappye is daarop van toepassing. Sodanige maatskappy vereis dan ook ’n minimum van sewe lede. Die maatskappy kan ook nie omskep word in ’n maatskappy met aandelekapitaal nie. Die betaling ter goeder trou van ’n redelike besoldiging aan beamptes of werknemers is toelaatbaar in terme van die maatskappywet.

Direkteure

Die algemene jaarvergadering moet die verkiesing van direkteure hanteer. Die statute van ’n artikel 21 maatskappy sal bepaal dat daar ’n minimum van twee direkteure moet wees. Die maksimum aantal direkteure wat aangestel mag word sal ook in die statute vermeld word. Die statute van ’n artikel 21 maatskappy kan ook voorsiening maak vir die aanstelling van ad hoc direkteure (of gekoöpteerde direkteure) deur die verkose gewone direksielede. Wanneer so ’n aanstelling gemaak word is die ad hoc direkteure in alle opsigte onderworpe aan die bedinge, kwalifikasies en voorwaardes wat met betrekking tot die ander direkteure van die maatskappy bestaan.

Die direkteure is verantwoordelik vir die oorhoofse bestuur en beheer van die artikel 21 maatskappy. Die statute van so ’n maatskappy maak egter gewoonlik voorsiening daarvoor dat die verantwoordelikheid vir die dag tot dag bestuur sal delegeer word na amptenare (die besturende direkteur/skoolhoof) en beamptes aangestel vir die doel.

Alle lede van ’n artikel 21 maatskappy, wie se name in die aandeleregister opgeskryf is en wie nie in terme van artikel 218 van die maatskappywet of die statute van die maatskappy gediskwalifiseer is nie, mag genomineer word om as ’n direkteur van die maatskappy verkies te word op ’n algemene vergadering vir die doel belê.

Pligte van direkteure

Die pligte van direkteure kan hoofsaaklik verdeel word in gemeenregtelike pligte en korporatiewe beheerpligte. Hierdie pligte sluit in breë trekke die plig van attentheid, sorg en vaardigheid en lojaliteit in. Elke direkteur moet voldoende tyd aan direksiepligte afstaan; ingelig wees oor die maatskappy-milieu en finansiële, sosiale en politieke sake; onafhanklik optree sonder buite-invloede; eerlik, verantwoordelik en met integriteit optree; die vertroulikheid van maatskappysake bewaar; onafhanklik advies inwin indien hy/sy twyfel oor enige sake en verseker dat daar behoorlike stelsels en kontroles bestaan om te verseker dat die inligting aan die direkteure voorgelê akkuraat is.

Keuse van gewone en ad hoc direkteure

Wanneer die lede van die algemene vergadering van ’n artikel 21 maatskappy direkteure verkies moet hulle veral die kwalifikasies, opdragte, verantwoordelikhede en pligte van die direkteure in gedagte hou.

Die direksie sal heelwaarskynlik uit verskeie komitees bestaan, waar elke komitee spesifiek aandag sal gee aan een van die volgende sake:

• finansiële beplanning, beheer en verslagdoening;

• strategiese beplanning wat insluit visie en missie stelling;

• bemarking en kommunikasie aksies; en

• personeel aanstellings, bevordering, ontwikkeling en die skep van gelyke geleenthede.

Direkteure wat deur die algemene jaarvergadering verkies word, moet derhalwe op ten minste een van die bovermelde terreine oor vaardighede of kundigheid beskik wat tot die voordeel van die direksie en die artikel 21 maatskappy aangewend kan word.

Ad hoc direkteure/gekoöpteerde direkteure hoef nie noodwendig lede van die artikel 21 maatskappy te wees nie. Hulle kan eerder kundiges wees wat objektief uit vorige ervaring as gesoute maatskappy direkteure ’n waardevolle bydrae lewer tot die bestuur van die maatskappy. Sodanige persone kan insluit persone met ’n hoë aansien in die gemeenskap, die hoof van ’n ander artikel 21 maatskappy wat as ’n onafhanklike skool funksioneer, of selfs ’n weldoener wat die maatskappy finansieël kan bevorder.

Die instelling van ’n ouer belangegroep/oueraksiekomitee skep vir die ander lede van die maatskappy, wat nie self op die direksie dien nie, ’n forum waar sake wat nie op ’n direksie vergadering agenda hoort nie, uitgepluis kan word. Slegs belangrike en onopgeloste probleme kan dan via die voorsitter van so ’n belangegroep op ’n direksievergadering dien. Sodoende het lede toegang tot die bestuur van die maatskappy sonder dat die direksie besig gehou word met beuselagtighede en kan fokus op die oorhoofse bestuur en beheer van die maatskappy.

Samevatting

Beheerliggaamslede vervul ’n waardevolle en onmisbare rol by skole. Dit is egter nodig dat sodanige lede hulle verantwoordelikhede besef en effektiewer met die bestaande skoolstrukture saamwerk in die beste belang van almal.

’n Aanhaling uit ’n artikel deur Squelch lui soos volg:

"The shift towards greater site-based governance and management is not confined to South Africa... The success of democratic, decentralised governance will depend on various factors, not least of which are the individuals involved and their commitment to shared decision-making, the structures and processes created to help governors operate, the resources [financial and human] available and the training opportunities provided."

Geoktrooieerde rekenmeesters as professionele mense kan ’n kardinale rol hierin speel en ’n waardevolle bydrae lewer om ons opvoedkundige stelsels te verbeter en uit te bou. Die tyd is ryp vir ons as professionele persone om hierdie geleentheid aan te gryp en daadwerklik ’n bydrae te maak.

Bronverwysing

Fullan M, 1993: Change forces: probing depths of educational reform. London: Falmer Press.
Rademeyer A, 1999: Die pligte en magte van ’n beheerliggaam. Beeld, 19 Okt 1999:17.
Squelch E, 1999: Governance of education. Contemporary education: global issues and trends. 1(1) Jan. 2000:136-145. Sandton: Heinemann.
Suid-Afrika (Republiek). Wette, statute, ens.: Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996 soos gewysig). Pretoria: Staatsdrukker.
Suid-Afrika (Republiek). Wette, statute, ens.: Maatskappywet (Wet 61 van 1973 soos gewysig). Pretoria: Staatsdrukker.

space.gif (42 bytes)
space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes)
space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes) space.gif (42 bytes)