Daar is min twyfel oor Suid-Afrikaanse sakevertroue. Hierdie is moeilike tye. Die RMB/BER sakevertroueindeks het gedurende die 2Q2009 ’n nuwe sikliese laagtepunt van 26 bereik. Net 26 uit 100 bestuurders spreek vertroue uit. In 2007 was dit nog na aan 90. ’n Groot meerderheid van besigheidsmense ervaar momenteel duidelik ’n gebrek aan sakevertroue. In sommige sektore is vertrouensvlakke selfs nog laer. In die behuisingsmark het boukontrakteurs se sakevertroue gedurende die 2Q2009 tot 17 gedaal. In die motorhandel is die vertroueindeks net 10 (wat ’n diep resessie aandui).
Hierdie sikliese wegval van sakevertroue het ons met baie ander lande in gemeen. Ons ekonomie het nie so ver geval as sommige ander nie, maar die uitwerking daarvan op sakevertroue is maar orals dieselfde. Daarenteen loop ons verbruikersvertroue blykbaar ’n ietwat ander paadjie. Die FNB/BER verbruikersvertroue opname vertoon nou alreeds vier kwartale ’n stadige herstel.
Die indekswaarde is momenteel net bo neutraal. Die indeks het egter oor die afgelope twaalf maande maar min gestyg, van ’n klein meerderheid pessimiste tot ’n klein meerderheid optimiste. Daarenteen is die huidige vlakke van verbruikersvertroue aansienlik laer as die hoogtepunt van die siklus in 2007.
Dus is daar wel deeglik ’n sikliese verandering te bespeur, met ’n skerp daling vroeg laasjaar gevolg deur ’n baie geleidelike herstel sedertdien. Die vraag is of die rekorddaling in die indeks gedurende die 2Q2008 nie in bietjie oordoen was nie. Dit was na groot elektrisiteitsskokke, petrolprysstygings en verdere rentekoersstygings.
Sommige verbruikers mag dit agterna as ’n oorreaksie beskou het. Ons kan dit veral sien in die mate waartoe mense hul sienings ten opsigte van ekonomiese vooruitsigte aansienlik verbeter het, en hul alreeds positiewe verwagtinge ten opsigte van hulle eie toekomstige finansies selfs verder verbeter het. En hierdie neiging strek vandag oor die meeste bevolkingsgroepe en ander verbruikersdimensies. Nog steeds stygende meerderhede onder alle groepe verbruikers bly egter steeds aantoon dat nou is nie ’n goeie tyd om duursame goedere aan te skaf nie. Hierdie versigtigheid het selfs nog toegeneem gedurende die 1H2009 terwyl die SARB rentekoerse met 450 punte verminder het.
Dus is daar twee aspekte omtrent verbruikersvertroue wat onomwonde duidelik is. Vandag se verbruikersvertroue is aansienlik laer as wat dit by die sikliese hoogtepunt was, selfs al is die gemiddelde vertrouensvlak vandag redelik neutraal en nie naby vorige resessievlakke nie.
Terselfdertyd is die onbereidwilligheid om duursame goedere te koop baie duidelik. Dit suggereer ’n algemene onrustigheid en ’n tendens om skuld te verminder. Mense verkies blykbaar om vir eers tevrede te wees met wat hulle het eerder as om nog meer goed aan te skaf in hierdie wisselvallige tye, selfs wanneer hulle eie finansiele vooruitsigte hoofsaaklik rooskleurig is, en rentekoerse reeds aansienlik gedaal het.
Miskien is dit alles ’n teken van hierdie tye, naamlik dat alles nog nie reg in die buitewereld is nie, dat daar aansienlike onsekerheid en omsigtigheid heers en dat dit gereflekteer word in mense se koopsgedrag. Duursame goedere se verkope daal nog steeds, soos daagliks die geval is in die motorhandel, eiendomsbedryf en meubelhandel.
Terselfdertyd wys die maandelikse data dat die kleinhandel in die algemeen ook ’n aansienlike terugslag ondervind. Laasjaar was daar ’n geleidelike daling in verkoopsvolumes te bespeur, wat in die eerste vier maande van vanjaar blykbaar aansienlik versnel het. Dit word ook beaam deur die BER se kleinhandelopnames. Dit strook goed met die enorme werksverliese gedurende hierdie periode, maar ook met verminderde inkomste soos oortyd, bonusse en kommissie en laer dividende en ander inkomste uit eiendom.Tog suggereer opnames soos die FNB/BER verbruiksvertroue dat ’n aansienlike meerderheid van stedelike volwassenes vertroue bly behou in hul eie finansiele vooruitsigte.
As die kleinhandel dus momenteel swakte in sy verkope ondervind, kan dit vir twee redes wees. Eerstens mag dit net eenvoudig wees as gevolg van inflasie of werkverlies wat koopkrag of inkomste verminder. Tweedens mag dit van ’n vrywillige aard wees soos meer versigtige verbruikers geneig is om minder skuld te maak, meer te spaar en inderdaad liewerste skuld vinniger te delg, gegewe dalende huispryse, werksgeleentheid, die internasionale geldkrisis, miskien onsekere politieke vooruitsigte en ander sulke oorwegings.
Hierdie neigings sal waarskynlik eers daadwerklik begin verbeter wanneer die globale vooruitsigte verbeter, die spaarneiging verder gevorder is, meer skuld afbetaal is, rentekoerse nog laer is en meer aantreklik raak, bestaande duursame goedere onaanvaarbaar oud raak, uitverkopings nog verleiderliker raak, met werksverliese wat afneem en huispryse wat uiteindelik stabiliseer en minder riskant lyk.
En dus wag ons vir die sikliese draaipunt in die ekonomie. Verbruikersvertroue suggereer dat so ’n sikliese draaipunt nie noodwendig ver in die toekoms sal wees nie. Ook het ons al in die verlede gesien dat verbruikers bly beweer dat die huidige oomblik nie ’n goeie tyd is om duursame goedere te koop nie, lank nadat die ekonomie gedraai en begin herstel het. Dit kan moontlik hierdie keer weer net so wees, soos ekonomiese herstel deur die sakesektor gelei word soos voorraadvermindering uiteindelik tot ’n einde kom.
Daar is ’n aansienlike meerderheid van ons stedelike verbruikers wat goed voel oor ekonomiese en finansiele vooruitsigte. Die land is tog blykbaar nie so erg deur onlangse gebeure getref as wat spesifieke ekonomiese sektore vir ons daagliks suggereer nie. Hooplik sal dit binnekort deur sikliese herstel bevestig word, waarskynlik vanaf die 4Q2009 soos die vlak van BBP weer begin styg.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.