Dit is wel so dat die ekonomie sterk groeiankers het in die landbou, mynbou en die konstruksiebedryf wat baat vind by die besteding op infrastruktuur deur die openbare sektor.
Dit ondersteun die ekonomiese groei en is ‘n belangrike stut in moeilike tye soos die huidige.
Dit beteken egter nie dat sulke groeisektore onder alle omstandighede kan verhoed dat die ekonomie verlangsaam en selfs in resessie beland nie.
Die vinnige groei van die afgelope paar jaar is beslis hierdie jaar ‘n nekslag toegedien. Die lang opswaai wat van 3Q1999 dateer staan einde toe.
Nege jaar is ‘n lang leeftyd vir ‘n opswaai. Dit beteken egter nie dat die opswaai noodwendig tot ‘n einde moes kom nie, maar die lopende rekening van die betalingsbalans het wel oorbelas geraak.
En ook beteken dit nie dat binnelandse kragte hierdie opswaai beëindig nie. Eskom se swak prestasie het duidelik wel die groei ondermyn, en ook het politieke onsekerheid ‘n bydrae gelewer. Maar op die keper beskou is dit nie voldoende om ons groei momentum te knak nie.
Die Amerikaanse ekonoom Rudi Dornbusch het vas geglo dat ekonomiese opswaaie nie sommer vanself tot ‘n einde kom nie. Hulle word gekelder deur sentrale banke wat die rieme styf intrek vir een of ander rede.
Ons huidige afswaai, wat in ‘n rekord tempo plaasvind en in resessie mag eindig binne een of twee kwartale, is so ‘n geval waar die doodslag van buite kom.
Die SA Reserwe Bank is al vir twee jaar besig om ons rentekoerse geleidelik te verhoog. Tot einde verlede jaar was die bedoeling om net die ekonomie so bietjie af te koel, en ‘n verandering in die saamstelling van die groei te bewerkstellig. Minder huishoudelike verbruiksgroei en meer ruimte vir vaste investerings en uitvoergroei.
Dit was nie ‘n slegte plan nie, en die ekonomie het redelik goed gereageer op die beleidsimpulse. Maar toe kom 2008 en verander alles.
Enorme globale kragte het ons inflasiekoers baie vinnig baie ver verhoog. Dit is veral olie en landbou kommoditeitspryse wat verras het, maar die swakker Rand en groot Eskom tariefverhogings het ook hul deel bygedra.
VPIX inflasie het gestyg van 3.5% in 2006 tot 10.4% in April 2008. Die grootste deel van hierdie styging kan terug herlei word na olie en voedsel.
Wat die situasie nog meer skrikwekkend maak is dat hierdie globale inflasiekragte nog glad nie tot bedaring gekom het nie. Olie het al $140 bereik, maar kan nog baie verder styg voordat dit sy sikliese hoogtepunt bereik. Net so vir baie landboukommoditeite.
Dit maak ‘n VPIX inflasie van tot 12%-13% in komende maande ‘n moontlikheid, maar met die potensiaal om na 15%-18% aan te stoom oor die volgende 12-18 maande as hierdie globale inflasiekragte sou voortduur. Die gevolge van so ‘n ontwikkeling sou rampspoedig wees.
Eerstens verarm hierdie inflasieskokke baie van ons verbruikers omdat hul loonverhogings nie bybly nie, ten minste nie hierdie jaar nie.
Tweedens is die SA Reserwe Bank bereid om die gevolge van hierdie inflasieskokke aan te spreek. Die bedoeling is dat ondernemings nie hierdie verhoogde pryse deurgee nie, maar absorbeer in verhoogde produktiwiteit en verminderde winsgrense. Ook word van die arbeidsmag verwag om hul looneise te beperk tot hoogstens 7%-8%, sodat eenheidskoste van arbeid nie vinniger sal toeneem as die Reserwe Bank se inflasieteiken van 3%-6% nie.
Sulke gedrag sal egter nie vanself plaasvind nie. Arbeid en besighede sal hulself wil beskerm teen hierdie verarmende prysskokke.
Dit is vir die rede dat die Reserwe Bank bereid is om rentekoerse verder te verhoog. Die groei word opgeoffer om meer ruimte en mededinging in die ekonomie toe te laat wat die inflasieneiging sal kan hokslaan.
Die opofferings raak egter groter met elke dag wat verbygaan. Bestedingsgroei neem af, werkgeleentheid gaan nou toenemend verlore, en huispryse tuimel, wat verbruikers meer versigtig stem. Net so vir baie besighede.
En die ergste is dat ons nie ten volle verstaan hoe ver die olie-en landboupryse nog kan styg nie. In die geval van olie word gepraat van $80 maar ook van $250. En vooruitsigte vir landboupryse is net so onseker.
Indien pryse verder aggressief toeneem, sal ons VPIX inflasie nog ‘n redelike sprong maak. Die Reserwe Bank sal waarskynlik nie ten volle reageer nie, uit vrees dat die ekonomie te sleg geraak sal word. Ons moet egter aanvaar dat daar nog rentekoersverhogings hierdie jaar kan wees, en ook dat die Rand nog verder kan verswak.
Dit alles sal ten koste wees van groei. Belangrike sektore soos die motorhandel is lankal in resessie. Die eiendomsmark en die residensiële sektor van die boubedryf het nou ook daardie stadium betree. Verdere verswakkings in ander sektore van die ekonomie soos die kleinhandel, vervaardigingswese, vervoerbedryf en selfs ander dienstakke mag nog volg.
Kort voor lank beteken dit dalende BBP, veral as hierdie jaar se landboumeevaller nie volgende jaar voortduur nie. En dan is ons voorwaar in resessie.
Herstel verg dat die kommoditeitsprysskokke afneem, ons VPIX inflasie kan daal, en die Reserwe Bank sy streng beleid kan verslap deur rentekoersdalings toe te laat.
Dit mag dalk eers in 2010 die geval wees as die ergste gebeur. Voorwaar nie ‘n plesierige vooruitblik nie.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy vrye e-pos artikels.