Om te kalf is vir ‘n koei om geboorte te gee. Maar daar is ‘n ander tipe, alledaagse ‘kalf’. Dit is wanneer dinge ineenstort, en dis die een wat ek in gedagte het!
Ons ekonomie kalf momenteel. Net nageboorte waar jy kyk, en nie ‘n mooi aangesig nie.
Dit het tog so onskuldig begin. Huishoudelike verbruik het feestelik teen 7%-8% voortgejaag, wat op sy beurt vaste investeringsgroei tot 15% aangewakker het, aangehelp deur die infrastruktuur gedoente.
Tipies weet ons net van bestee en nie van bespaar in ons post-industriële hebberigheid nie. Net soos vaste investering styg en besparing stagneer, ontstaan daar ‘n besparingstekort wat sy weerslag in ‘n handelstekort van 7%-8% van BBP het.
Dit is uiteindelik strategies dom, want dit kan lank goed gaan, tot dat dit verkeerd gaan. Ons het dit reeds ervaar in 2001. Ysland het toendertyd ook loesing gekry. Hierdie jaar was dit weer sulke tyd. Ons het gelukkig daardie noodlot ontspring, maar die beleidsmakers was deurentyd op hul senuwees. Dalk gebeur dit weer, halveer die Rand, verdubbel die inflasiekoers, jaag rentekoerse op, wat weer die groeikoers afjak.
Dit het toe nie die afgelope twee jaar gebeur nie, waarom weet nugter. Die Rand het wel beweeg, van 20% oorgewaardeer (5.60:$) tot 20% ondergewaardeer (8.20:$). Maar hierdie bewegings is vandag alledaags. Niks besonders nie.
Die groot een wat jou 15:$ toe vat, is die een om te vrees. Ons het selfs nie gewag vir die gevreesde een om sy opwagting te maak nie. Besluit toe maar om die verbruiker eiehandig nek om te draai.
Rentekoerse is verhoog van 10.5% tot 14.5%, en die begroting het van tekort na surplus beweeg. Die nuwe kredietwet wat ingevoer was, is bedoel om die plesier te demp, en dit het geslaag.
Teen jaarkoers het groei in verbruiksbesteding verlede jaar meer as gehalveer, van 9% to 3.5%, en dit gly nog steeds, en ons is al byna half pad deur 2008. Dit het ook residensiële investering (huisbou) ondermyn, wat hierdie jaar net matig sou daal.
Toe gebeur daar sommer baie dinge wat die ekonomie nou regtig aan die kalf het.
Eskom raak toe onvoorspelbaar. Baie van die munisipaliteite is al baie lank die kluts kwyt. Dit tref mynbou, as ook nie-residensiële bou. Daar is toenemende onsekerheid onder ondernemers, maar ook onder baie huishoudings. Wat de joos gaan aan?
Oorsee is daar toenemende welvaart en dus meer vraag na proteine, en olie, wie se stygende prys op sy beurt groter vraag na kossubstitute laat onstaan.
Lang verhaal kort, ons VPIX skiet van 3.5% na 9.5%, en ‘n verdubbeling van elektrisiteitstariewe maak sommer 12.5% moontlik teen middel 2008. Tipies vat ons dit nie. Kompenseer my, gee my meer, vir wat ek besig is om te verloor. Dit kan beteken dat inflasie permanent verdubbel. Dis nie aanvaarbaar nie, veral vir die armes wat hulself nie kan verdedig nie, behalwe polities.
Tog druk die Reserwe Bank rentekoerse nog verder op, soos duimskroewe in die ou tyd, ‘n beproefde martelingstegniek wat mense laat sing en yl het soos vinke.
Groei word nou beslis opgeoffer. Huishoudings sny nog steeds aan hul bestedingsgroei. Private vaste investering, ten minste die wat nou nie gekoppel is aan infrastruktuurontwikkeling nie, raak ook bra onseker.
Ons verloor momentum en rigting, en begin doelloos ronddobber in ‘n situasie wat ons laas in die 1970s, 1980s en 1990s geken het.
BBP groeivooruitsigte is besig om te kalf, van 5.5% verlede jaar na 4% en toe selfs 3% hierdie jaar, en wie weet waar dit sal eindig.
Gelukkig ervaar die landbou ‘n 50% meevaller (lekker!). Die mynbou is verheug oor verhoogde kommoditeitspryse. Produsente in die algemeen put voordeel uit die swakker Rand. So dit is nie alles ‘n tranendal nie.
Dit is nag aan die bestedingskant. Die motorbedryf is in ressessie, met motor-verkope wat 20% af is. Die eiendomsmark is vinnig aan die verswak, met huispryse wat nou daal, sommer vinnig ook. Huishoudelike apparatuur, meubels, toebehore, noem dit en dis onderwater, en nog is daar geen einde nie. Want daar is mense wat beweer rentekoerse kan maklik nog ‘n keer styg.
Inflasie sal egter nie ewig bly versnel nie. Inderdaad, dit sal uiteindelik ‘n piek bereik en daarna afkom. Ons huishoudings het inderdaad nie meer mag oor om die buikriem nog stewiger aan te draai nie. Dis nie langer net ‘n hongerte nie, maar hongersnood.
Eskom kry sy geld. Olie en voedselpryse sal nog styg, maar stadiger as voorheen. Ons wie wel meer loon en salaris vra, sal versigter gemaan word deur werkverlies wat net om die draai is.
Anders kan ons jarelange optimisme dalk in ‘n diep pessimisme verander, en dit vat baie moeite om weer uit so ‘n dal te kom.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy vrye e-pos artikels.