Die landbou ervaar goeie tye, met inkomstes wat 50% gestyg het in 2008 en goeie oeste wat oor die komende jaar wag. So ook die konstruksiebedryf soos die land sy infrastruktuur probeer verbeter na jare van erg verwaarlosing en toenemende tekorte.
Daar is ook ander sektore in die ekonomie wat selfs buitengewoon goed doen.
Werksgeleentheid in die sektor het die afgelope jare meer as verdubbel, en ondernemings toon sterk winsgroei. Staatsdiens brei vinnig uit soos die regering meer geld bestee aan sosiale diensverlening. Meer polisie, meer onderwysers en meer amptenare, almal teen goeie salarisse. Ook baie meer ontvangers van staatstoelaes, wat hierdie jaar uitbrei tot 13.3 miljoen.
Besteding van al hierdie geld help ook weer om die kleinhandel gelukkig te hou, maar in die res van die ekonomie het baie ligte verdof en gaan dit van kwaad tot erger.
Motorverkope het die afgelope drie jaar gehalveer, met die helfte van motorhandelaars daarmee heen. Net so in die stedelike eiendomsmark, dwarsdeur die land, met baie eiendomsagente wat hul werk verloor het.
Albei sektore het swaar gelei onder stygende rentekoerse van onlangse jare.
Goedgekeurde huisbouplanne was in Augustus 2008 tot soveel as -35% laer as ’n jaar gelede. Sementverkope het ook laasjaar gedaal, maar hierdie jaar teen ’n versnelde pas (-18% in Februarie 2009).
Hotelnagte het vroeg laasjaar nog +13% gegroei, maar in 2H2008 het omstandighede aansienlik versleg, so ook het elektrisiteitsverkope vroeg laasjaar nog teen 1% gegroei, daarna tot Oktober met -2% gedaal, maar toe vinnig gedaal met -5% in November en -10% in Desember, en nog met -7% in January 2009.
Mynbouproduksie het laasjaar -7.5% gedaal, en ’n verdere -11% in Januarie 2009.
Die vervaardigingswese het die eerste nege maande van 2008 nog redelik gegroei, hoewel binnelandse motorverkope 20% gedaal het en ander duursame verbruiksgoedere (meubels, huishoudelike toebehore en toerusting) ook dalend was. Kledingstowwe en gebruiksgoedere (voedsel, drank) het dinge egter aan die gaan gehou, asook sterk vaste investeringsvraag na toerusting en boumateriale.
In 4Q 2008 het toestande egter drasties begin versleg, en het fabrieksproduksie -1.7% in Oktober, -6.4% in November en -7% in Desember gedaal. In Januarie 2009 het dit ’n verdere 11% gedaal. Die hoofsaaklike rede was ’n drastiese afname in veral uitvoere, maar ook binnelandse privaat vaste investering.
Die groot internasionale kredietkrisis het uiteindelik in September 2008 ’n breekpunt bereik, die verlies in vertroue het veral gemeen met die vrees wat die toekoms betref. Orals het huishoudings en besighede begin verdedigend optree, hoofsaaklik deur belangrike aankope uit te stel.
Motors en toerusting moet een of ander tyd vervang word, maar in uiters onsekere tye is dit altyd slim om maar liewers vir eers te wag om te sien hoe dinge uitspeel.
Die gevolg is egter ’n ineenstorting na die vraag vir baie produkte, veral motors, maar ook nuwe geboue, skepe en masjinerie. So ook na materiale soos staal, koper, nikkel en platinum. Ons staalproduksie het nog tot Augustus 2008 sterk gegroei. Teen Desember het produksie egter met -75% geval soos uitvoere gedaal het en voorraadvlakke verminder is, en was in January 2009 nog steeds af met -36%.
Vir 2009 beplan ons staalbedryf ’n 30% sny in produksie, motorvervaardigers verwag 20% verlaging in binnelandse verkope en 35% minder uitvoere, ferrokroom produksie is effektief gestaak, platinummyne verwag nog 10% minder produksie en diamantmyne sal waarskynlik 20% minder produseer.
Bogenoemde is alles baie groot dalings, met enorme trefkrag soos die gevolge wyer uitkring in die ekonomie. Werksgeleentheid sal veral verminder, waarskynlik met tot soveel as 300 000 of 3% van die arbeidsmag. Dit op sy beurt sal kleinhandelsverkope verder nadelig tref.
Ons uitvoere het tot September 2008 redelik gepresteer en R50-R60bn maandeliks verdien, wat neerkom op $7.5bn per maand. Daarna het uitvoere in Dollar terme binne ’n paar maande tot in Januarie 2009 gehalveer. Dit is nie asof daar niks gedoen word om hierdie kragte teen te staan nie. Die olieprys is skerp af van $150 na $40, wat verligting bring aan almal wat vervoer benodig. Die Rand het laasjaar 40% tot 10:$ verswak, wat verligting gebring het aan baie uitvoerders of produsente soos die landbou wat meeding met ingevoerde produk.
Die Minister van Finansies het minder belasting ontvang maar tog sy besteding uitgebrei en op hierdie manier die ekonomie gehelp, deur eenvoudig meer geld te leen. Vanjaar en volgende jaar sal hy dit selfs op nog groter skaal doen om te verhoed dat die ekonomie te veel verswak.
Die Reserwe Bank is ook besig om sy kant te bring. Dit het in Desember 2008 rentekoerse met 0.5% verminder, met ’n verdere 1% daling in Februarie 2009, wat die prima rentekoers na 14% verminder het. Verdere rentekoersdalings word in komende maande verwag, wat die primakoers waarskynlik tot nader aan 11% of selfs laer sal neem.
Hierdie aksies, asook ons groot infrastruktuurbesteding en internasionale pogings om die wereldekonomie wëer aan die gang te kry, is alles ondersteunend vir ons ekonomie. Dit behoort te verhoed dat die ekonomie se insinking onnodiglik diep of lank sal wees.
Tog sal ons realisties moet wees oor oorsese gebeure – wat dit vir ons kan inhou – en wat ons kan vermag in sulke moeilike omstandighede.
Daar gaan beslis baie sektore in die ekonomie wees wat lank harde bene sal kou, al is daar ook ’n paar sektore wat redelik goed behoort te presteer of altans nie baie sal terugstaan nie, waaronder, die konstruksiebedryf en die staatsdiens.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.