Die globale bankkrisis, wat gebeure die afgelope twee jaar gedomineer het en die wêreldekonomie laasjaar in ressessie gedompel het, staan einde se kant toe.Net so die globale resessie, met groei wat waarskynlik alreeds vanaf 2H2009 herstel sal wys, aangehelp deur aansienlik afgeskaalde voorraadvermindering en die stabilisasie van verbruiksbesteding.
Ons ekonomie sal waarskynlik ook in die loop van 2H2009 weer begin groei. Hoeveel van ’n opswaai is te verwagte, in terme van tydsduur en sterkte? Veel gaan afhang van globale kragte, maar net so ook enige beleidsveranderings plaaslik.Die sterkste groei oorsee sal waarskynlik weer in China begin wys, met ’n herstel na 10% BBP groei jaarliks na hierdie jaar se afskaling na 8%. Indië verwag 5.5% BBP groei in die komende jaar.
Amerika, Europa en Japan se herstel sal minder dramaties wees na groot BBP dalings hierdie jaar. Hierdie gebiede sal waarskynlik almal stadig herstel, na BBP dalings van tot 3%-6% in 2009. Die groot toename in werkloosheid orals impliseer baie onderbenutte produksiefaktore wat ’n lang herstel met lae inflasie moontlik maak. Dus kan ons waarskynlik reken op ’n dekade van groei, met veral die Asiatiese groei kommoditeitsintensief en tot ons voordeel.
Daar bly haakpunte in hierdie blink vooruitsig. Baie mense bly onseker of sentrale banke en owerhede daarin sal slaag om die groot hoeveelheid ekstra likwiditeit tydig te verminder wanneer dit noodsaaklik raak. As dit nie gedoen word nie, kan daar ’n groot inflasie volg, gepaardgaande met wisselkoersonstabiliteit. Sulke ontwikkelings sou waarskynlik ten gunste van ons wees, kommoditeitspryse laat styg en ons Rand ondersteun.
Dit is egter glad nie vanselfsprekend dat sentrale banke nie daarin sal slaag om hierdie likwiditeitsvraagstuk bevredigend te beredder nie. ’n Groter probleem vir sommige lande, veral armes, is terugkerende kommoditeitstekortte, gegewe diep beperkings aan die aanbodskant. Dit kan vroegtydig tot hernude stygings van kommoditeitspryse lei, veral van olie, met moontlik aansienlike inflasieimplikasies vir sommiges.
Ons kan dus nie sommer so klakkeloos aanvaar inflasie gaan vir lank laag bly as gevolg van oorskot arbeid orals, en gevolglike baie lae rentekoerse oor baie jare. Dit is eerder te verwagte dat kommoditeitsinflasie teen volgende jaar weer sal begin kop uitsteek en dalk ook by ons stygende inflasie sal veroorsaak gedurende 2011-2014. Dit op sy beurt kan ook by ons ’n hernude styging in rentekoerse veroorsaak, moontlik alreeds vanaf 2011 soos die ekonomie se groei herstel en onderbenutte kapasiteitsbesetting minder van ’n probleem raak.
In die komende sakesiklus en bykomstige rentekoerssiklus sal daar benewens die inflasieverloop en onderbenutting van produksiefaktore ook na batepryse se verloop gekyk word. Veral laasgenoemde mag vir eers nie baie sterk vertoon nie, en verhoed dat verbruiksbesteding te sterk groei. Dit sal vroeg in die nuwe siklus ’n rede wees om rentekoerse ietwat terug te hou. Soos groei egter vorder, kapasiteitsbesetting verbeter, inflasie begin styg en batepryse weer meer lewendig raak, sal die nuwe beleidskonsensus waarskynlik ten gunste wees van ’n strakker rentekoersbeleid.
Sodanige dissipline sou natuurlik kan verhoed dat wanbalanse te vroeg tot stand kom en te groot raak, wat op sy beurt die opswaai langduriger kan maak. Suid-Afrika se beleidsmakers sal natuurlik ook self in hierdie nuwe opswaai ’n belangrike bydrae maak, ten goede of ten kwade. Gedurende 2009 sal die ekonomie nog aansienlike ondersteuning benodig, en is dit wenslik dat ons ’n redelik groot begrotingstekort (5% van BBP) aanvaar, met redekoerse wat redelik ver afkom (prima rentekoers van 11%).
Maar vanaf volgende jaar sal die begrotingstekort siklies al moet begin verminder, terwyl dit ’n kwessie van tyd behoort te wees voordat die Reserwe Bank weer sal begin om rentekoerse te verhoog, afhangende van die inflasieverloop en hoe sterk die ekonomie reageer. Daar is egter alreeds aansienlike aanduidings van moontlike beleidsveranderings, in die ministriële aanstellings deur President Zuma soos reeds afgekondig.
Daar mag meer regulatoriese inmenging kom wat bedoel sal wees om beskermend te werk, maar wat die groei kan ondermyn deur doeltreffendheid en sakevertroue aangaande nuwe investerings te verminder. Verder word daar gepraat deur sommiges oor veranderings aan die beleid van inflasieteikens, met groter nadruk op werkloosheidsvermindering. Net so met fiskale beleid, met ’n uitgesproke voorkeur deur sommiges vir groter staatsbesteding om armoede aan te spreek.
Dit is geensins ’n ideologiese gegewe dat ’n Zuma regering tot ’n baie groot mate van die beleid van sy voorgangers sal wil afwyk nie. Tog laat sommige aanstellings die gedagte posvat dat daar wel ’n verandering in beleidstoepassing kan wees, en beslis baie groter beleidsspanninge, gegewe uiteenlopende beleidsvoorkeure van verskeie rolspelers.
Dit is nog vroegdag om te uitgesproke te raak oor hoe al hierdie veranderings ons groeiproses dalk sal kan bëinvloed. In die tussentyd kan ons langtermyn groeifaktore (beskikbare arbeid, meer vaste investering, veral infrastruktuur, meer verstedeliking, herstel van buitelandse handel, gloebal groeineiging) ‘n herstel in ons langtermyn groei moontlik maak.
BBP kan tot 40%-50% styg in die komende dekade, formele werksgeleentheid kan met 2.5 miljoen styg tot 12 miljoen, en informele werksgeleentheid kan met 1.5 miljoen styg tot 6 miljoen. Ook kan die armes meer staatsondersteuning verwag. Verder kan enige Zuma beleidsveranderings ‘n uitwerking op die groeineiging hê, ten goede of ten kwade.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.