Laasjaar was daar ongeveer elke kwartaal groot skokke soos elektrisiteit, kommoditeitsinflasie, rentekoerse en uiteindelik die grootste bielie van almal, die wereldkrisis, hul opwagting gemaak het. Hierdie jaar is dit ons makrobeleid wat toenemend verras.
Die begrotingssurplus van 1% van BBP in 2007 het laasjaar stadig in ’n begrotingstekort ontaard, maar het toe veral hierdie jaar al vinniger verswak, tot so ’n mate dat dit vandag op 7%-8% van BBP geraam word soos veral belastinginkomste teleurstel.
Die SA Reserwe Bank (SARB) bly egter nie agter met sy verrassings nie. Die SARB het eers laat (Desember 2008) begin rentekoerse sny, en dit teen ’n versigtige pas (net -0.5%). Maar toe die rentekoerskomitee van Kersverlof teruggekom het, het daar plotseling ’n versnelling ingetree en word daar sedert Februarie hierdie jaar sommer maandeliks vergader en rentekoerse gesny dat dit klap. Prima word toe sommer in ses maande van 15.5% na 11% verminder. Daarna het dit weer stil geraak. In Junie het die SARB laat weet dat die ekonomie inderdaad papperig is maar dat die Bank nie van die risiko’s hou aangaande die VPI inflasievoorspelling nie.
’n Rede om maar liewers rentekoerse nie verder te sny nie. Waarnemers het hierdie boodskap ter harte geneem. In Julie was daar nie ’n vergadering nie, maar vir Augustus het 23 uit 26 waarnemers gedink die SARB sal weer rentekoerse onveranderd laat, want so min het dan verander sedert Junie se vergadering.
Tog blykbaar nie, want die SARB verras toe byna almal deur tog maar weer rentekoerse met 0.5% te sny, wat veroorsaak het dat prima tot 10.5% daal. Die hoofsaaklike rede bly maar inflasievooruitsigte, maar blykbaar via ’n omweg. Dit is die swak ekonomie waar dinge krap. Twee interpretasies is moontlik.
Die een dui op plaaslike ongeduld met ’n ekonomie wat nie so vinnig reageer en vorder as wat elders in die wêreld die geval is nie. So help ’n bietjie daar. Die ander interpretasie is ’n baie donkerder een. Hiervolgens laat groot sentrale banke oorsee geen klip onaangeroer nie om seker te maak dat hul bankstelsels wel stabiliseer en verbeter en ook dat hul ekonomieë wel beterskap toon. Volgens hierdie tweede interpretasie is sentrale banke op geen wyse bereid om deflasie toe te laat om pos te vat of om ’n tweede groot depressie binne ’n eeu te laat ontstaan nie. Dus word daar seker gemaak, selfs oormatig so, dat so iets nie sal gebeur of hom sal herhaal nie.
Die SARB het geen duidelikheid geskep oor presies wat hom beweeg het om weer onlangs rentekoerse te sny nie. Daar word wel verwag dat inflasie teen volgende jaar nog verder sal afkom, maar daar bly risiko’s wat hierdie proses kan ondermyn.
Daar is egter baie meer begaandheid oor die swakte van ons ekonomie, terwyl daar skepties na die wêreldherstel gekyk word. Hierdie versigtigheid wat betref herstel word dus gedeel met ander groot sentrale banke wat ook duidelik baie versigtig is om hul beleid nie te vroeg te verslap en moontlik ’n terugval te ervaar nie. Miskien is die werklike SARB beweegrede ’n bietjie van albei redenasies.
Daar heers blykbaar gesonde skeptisisme oor wat volgende jaar nog gaan gebeur wanneer die fiskale inspuitings wêreldwyd minder ondersteunend sal wees en die voorraadafbouing tot ’n einde gekom het, met verbruikers wat blykbaar tog nog uiters kwesbaar voorkom en sakelui wat dienooreenkomstig versigtig optree.
Terselfdertyd is daar waarskynlik ’n enorme afguns en bewustheid dat ander ekonomiee alreeds baie sterker begin reageer het, en reeds herstel of inderdaad binnekort so sal begin maak. Ons herstel daarenteen kan moontlik lank sloer, waartydens werkloosheid verder kan toeneem en inflasie kan verras aan die onderkant van die voorspellingsruimte.
En dus sny ons rentekoerse nog maar ’n bietjie verder, ook omdat die redelik sterk Rand nie uitvoere bevorder nie, die uitvoersektore dalk teruggehou word deur oorsese gebeure (waar ander lande as gevolg van groter mededingendheid dalk eerste die voordeel kry), ons eie verbruikers skrikkerig bly en ons kredietbeskikbaarheid ook maar stramerig bly.
Aangesien fiskale beleid alreeds tot die maksimum van sy vermoë lewer, terwyl rentekoerse nog redelik hoog is, veral wanneer vergelyk met oorsee, is dit dalk begryplik dat die SARB nou tog nog kans gesien het om rentekoerse nog ’n keer te verlaag.
Die finansiële markte verwag selfs dat die SARB dit nog ’n slag sal doen in komende maande, want hierdie twee argumente is nog glad nie holrug gery nie. Min mense het verwag om prima by 10% te sien so kort nadat ons by 15.5% gedraai het. Wys jou hoe onstuimig die wêreld tans is en hoe ons beleidsmakers spook om by te bly. Ons wens hul sterkte toe in hul moeilike taak.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.