Dit is alweer meer as ’n jaar gelede dat die ekonomie ’n belangrike waterskeiding bereik het. Die sikliese opswaaifase wat middel 1999 begin het, het in laat 2007 tot ’n einde gekom. ’n Afswaai fase het begin, en veral gedurende 2H2008 spoed opgetel.
Tog het verwagtinge gedurende 2008 redelik positief gebly. Na jare van vinnige BBP groei, inderdaad meer as 5% jaarliks gedurende 2004-2007, was daar aansienlike hoop dat 2008 nog steeds 3.7%-4% groei sou kon lewer, en 2009 minstens 3%, voordat versnelling later in 2009 weer ’n beter 4.5% BBP groei in 2010 sou lewer.
Die realiteit het egter anders uitgewerk, hoofsaaklik omdat voortdurende nuwe gebeurtenisse dinge lelik laat skeefloop het.BBP groei in 2008 was toe ’n skamele 3%-3.2%. Dit was hoofsaaklik toeskryfbaar aan die sterk prysstygings van olie en voedsel in 1H2008 wat koopkrag ondermyn het.
Ander bydraende faktore was die SARB se reaksie om rentekoerse verder te verhoog, die kragonderbrekings en geforseerde elektrisiteitsbesparing wat veral mynbou en industrie swaar getref het, en dan ook nog die groot oorsese krisis wat ons uitvoere begin affekteer het, veral hier aan die einde van die jaar.
Daar was darem ook goeie nuus in 2H2008.Die olieprys het skerp gedaal en het verbruikers se koopkrag weer ’n groot hupstoot gegee. Ook het die ommeswaai in inflasie die SARB gemotiveer om rentekoerse met 0.5% in Desember te sny, met die verwagting van meer sulke dalings in 2009. Verder het die land se fiskale beleid die ekonomie ondersteun soos die begrote surplus toegelaat is om in ’n tekort te omskep, aangesien owerheidsbesteding gehandhaaf is terwyl die swak ekonomie belastinginkomste verminder het.
Hoewel al hierdie positiewe ontwikkelings nog sterker gevoel behoort te word in 2009, is die negatiewe kragte egter ook baie sterk, inderdaad steeds dominant.Huishoudings se vertroue is geskaad en bereidwilligheid om duursame goedere (motor, huis, meubels, toebehore) aan te skaf is min. Kleinhandelsverkope bly swak.
Dieselfde gebrek aan vertroue pla baie besighede wat toenemend moes ervaar dat sakeomstandighede verswak het. Dit het aanleiding begin gee tot vermindering van voorrraadvlakke, die afskaling van privaat vaste investering, asook die afdank van arbeid, die inkorting van werksure, verminderde bonusbetalings en verdere sny van kostes. Dit was nie net die verswakkende prentjie binnelands nie, maar veral ook die gebeure oorsee en die uitwerking daarvan op spesifieke uitvoermarkte wat bepalend was vir die swak groeiprestasie. Die verwagtinge vir 2009 het stelselmatig begin versleg soos die globale kredietkrisis baie ekonomiese sektore oorsee hard begin slaan het.
Orals het vrees die bo-toon begin voer. Nie net vrees vir jou huis, jou geld, jou beleggings nie, maar ook jou werk en pensioen. Baie internasionale besighede het nie gewag vir die noodlot om hulle te tref nie, en het sommer vroeg meer defensief begin optree deur kostes, voorrade, personeel en investering te sny. Dit het aanleiding gegee tot skerp produksiedalings byna orals in die 4Q2008, wat ook die vraag na baie lande se uitvoere skerp laat daal het.
In Suid-Afrika se geval was dit veral staal en metaal produkte, maar ook ons motoruitvoere wat geaffekteer word en daar is sprake om platinumproduksie met tot 10% hierdie jaar in te kort. Die verlies aan binnelandse groeimomentum is nog nie verby nie, en sal tyd vat om tot ’n einde te kom. Hierdie verlies aan momentum word dus nou nog steeds verder versterk deur toenemende swakte in die buiteland wat ook baie van ons plaaslike besighede sal affekteer.
Die baie positiewe kragte alreeds genoem sal waarskynlik nie by magte wees om die negatiewe uitwerking van globale gebeurtenisse vinnig te neutraliseer nie.Dus verwag ons verdere verswakking van groeivooruitsigte. BBP groei hierdie jaar kan so min as 1% wees.
Mits die oorsese krisis suksesvol afgehandel word hierdie jaar en die baie pogings om ekonomiese stimulasie te bevorder suksesvol is, behoort die internasionale ekonomie teen jaareinde stadig te begin herstel, met eers volgende jaar weer volgehoue groei. Dit op sy beurt behoort ook ons ekonomie te ondersteun, alhoewel dit kan sloer. Ook is dit dan veral ons binnelandse aksies wat sal help om die wa deur die drif te trek.
Veral rentekoersdalings, die laer olieprys en verminderde voedselinflasie, die verruimende begrotingstekort en die ondergewaardeerde Rand sal alles ondersteunend wees vir die ekonomie en help om die groeiproses aan te help. Ook behoort ons infrastruktuur se investeringsprojekte ’n belangrike anker vir ons BBP groei te bly.
Rentekoerse sal waarskynlik ten minste 3% daal hierdie jaar, met die prima rentekoers op 12% teen jaareinde. Tesame met die verbeterde koopkrag en ondersteunende Rand behoort dit huishoudings se bereidwilligheid om duursame goedere te vervang weer te laat verbeter. Net so behoort besighede minder geneigd te wees om voorraadvlakke nog verder te sny. Dit alles kan produksie ’n nuwe hupstoot gee, en verhoed dat werkgeleentheid nog verder gesny word later vanjaar.
BBP groei in 2010 kan daarvolgens herstel tot 3.5% of selfs beter, afhangende van oorsese omstandighede.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.