Vir inflasie om te bly versnel, moet daar iets verkeerd loop met die kredietskepping, veral as gevolg van oordanige owerheidsbehoeftes om geld te leen. ‘n Inflasie spiraal kan dan maklik ontstaan, en uiteindelik hand uitruk en in ‘n hiperinflasie eindig.
Ons, en die wêreld, is egter nie in so ‘n situasie nie. In ons geval wys fiskale beleid selfs ‘n surplus, die gepaste reaksie op ons huidige makro omstandighede.
Elders in die wêreld, maar ook beslis hier by ons, is rentekoerse bo inflasiekoerse. Kredietskepping bly wel lewendig, maar is nie noodwendig oordadig nie. Sentrale banke bly redelik versigtig met hul beleidsopstelling om nie oormatige geldskepping toe te laat en inflasiespirale te laat posvat nie.
In die ontwikkelde lande is inflasie ‘n matige 2%-3% en in baie ontluikende markte is dit nie veel meer nie.
Tog kla die wêreld aanhoudend oor inflasie, en in ons geval word selfs verwag dat VPIX inflasie 8% gaan haal vroeg in 2008.
Daar is twee neigings wat die inflasiestories aan die kook hou. Die een is aanhoudende ekonomiese groei, tot so ‘n mate dat baie lande se ekonomieë op volle potensiaal produseer of selfs nog vinniger probeer groei. Hierdie volle besetting van die ekonomiese produktiewe vermoë het tot gevolg dat tekortte ontstaan en opwaartse druk op lone en pryse vermeerder.
Die groei in ontluikende lande, veral in Asië, is egter so hoog en hul industralisasie so vinnig dat hul vraag na kommoditeite vinniger bly groei as die aanbod. Energie, metale en lanboukommoditeite ervaar almal hierdie buitengewone vraagdruk wat gevolglik tot opwaartse prysaanpassings lei. Maar pleks dat hierdie verhoogde pryse net tydelik is, het ‘n langtermyn verandering meegebring gekom wat kommoditeitspryse blykbaar jaar na jaar hoër laat neig.
In Suid Afrika se geval het VPIX inflasie die afgelope twee jaar van 3% tot nader aan 8% gestyg. Tweederdes van hierdie styging kan toe geskryf word aan olie en voedselpryse se sterk opwaartse neigings. Dit het egter die gevoel laat ontstaan onder baie mense dat hierdie pryse net nog kan versnel.
Daar is seker omstandighede, soos ‘n Middel Oosterse oorlog in die geval van olie en groot oorsese droogtes in die geval van landbou, waarin hierdie pryse selfs nog aansienlik hoër kan styg.
Op die langtermyn sal daar waarskynlik wel verdere kommoditeitsprysstygings wees as gevolg van toenemende vraagdruk uit ontwikkelende lande en beperkte aanbods verbeterings. Sommige kenners beweer selfs dat die toestand eers ‘n einde sal kry teen 2020.
Terselfdertyd moet ons wel in ag neem dat daar op die korttermyn versteurings is wat tydelike prysdalings kan veroorsaak. Olie kan moontlik ‘n pryskorreksie ervaar in 2008. Dit kan ook met sekere landbou kommoditeitspryse gebeur.
Daar is vandag baie spekulatiewe kapitaal wat in olie geinvesteer word. As Amerika se olievraag tydelik sou daal as gevolg van swakker ekonomiese groei, en die olie spekulante sou winste vat, kan die olieprys op korttermyn verras deur redelik te daal.
Dit sou weer vedere deurwerking kan hê na landboupryse.
Tesame sou sodanige prysontwikkelings ons VPIX inflasie redelik vinnig kan laat daal in die loop van 2008, selfs tot binne die 3%-6% teiken van die Reserwe Bank.
Dit op sy beurt kan implikasies kan hê vir rentekoersbeleid en selfs tot dalings in rentekoerse aanleiding gee later in 2008 en in 2009.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van
First National Bank. Besoek sy webwerf
www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy vrye e-pos artikels.