Dit is waar dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2008 gegroei het. Maar dit is ongeveer die enigste brokkie goeie nuus wat ’n mens aan kan dink. Onmiddellike vooruitsigte is nag.
Die verbruiker het gedurende 2H2008 in resessie inbeweeg soos verbruiksbesteding begin daal het, gelei deur swak duursame verbruiksbesteding, veral motors, behuising, meubels en huishoudelike toebehore. Vaste investeringsgroei het ook gedurende 2H2008 verder verswak, veral in dele van die privaat sektor se vaste investering. Die bounywerheid het toenemend moeilike omstandighede ervaar, met bekostigbaarheid ’n steeds groeiende probleem vir baie huishoudings.
Die kantoormark en ander bouaktiwiteite sal waarskynlik ook in die loop van 2009 teruggesny word soos nuwe ontwikkelings uitgestel word, hoofsaaklik uit rentekoersvrese, maar ook omdat elektrisiteit en ander munisipale dienste verskaffingsprobleme ondervind.
Toe die internasionale kredietkrisis sy hoogtepunt bereik het in 4Q2008 het dit duidelik geword dat ekonomiese aktiwiteit byna orals negatief geraak sal word.Resessie het alreeds toegesak op Amerika, Engeland, groot dele van Europa, Japan, Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Baie ontluikende markte se BBP groeikoerse is besig om afwaarts aan te pas.
Kommoditeitspryse het in die afgelope maande erg gedaal. Ons uitvoerpryse van platinum en goud, maar ook energie en basiese metale het alles gekelder.
Die laer olieprys het verhoed dat ons alreeds groot lopende rekeningtekort nog verder gestyg het. Invoervolumes sal waarskynlik daal soos ons binnelandse besteding afwaarts aanpas, maar ons uitvoervolumes is waarskynlik ook besig om te daal as gevolg van internasionale resessie.
Dit wil dus voorkom dat dalende uitvoeraktiwiteit verdere druk sal plaas op ons BBP-groei volgende jaar. Verder moet ons in ag neem dat daar toenemend verdedigend opgetree gaan word deur besighede in baie sektore. Dit sluit in verminderde nuwe bestellings, pogings om voorraadvlakke te sny, afskaling in werksure, verminderde werksgeleentheid, laer besteding in die algemeen, en ook kleiner vaste investering.
Sodanige ontwikkelings sal waarskynlik ook lei tot verminderde inkomstes vir huishoudings. Dit is veral die meer buigbare vorms van vergoeding, soos kommissie, fooie, oortyd en bonusse wat die komende jaar in die slag kan bly. Tesame met vrese oor nog rentekoersverhogings as gevolg van die swak Rand kan dit huishoudings dwing om hul uitgawes verder te sny.
Al hierdie ontwikkelings tesame kan maklik ontaard in twee of selfs drie kwartale van dalende BBP in die loop van 2009.Terselfdertyd is daar wel enkele ligpuntjies.Die landsbegroting raak ondersteunend vir die ekonomie soos die regering voortgaan met besteding deur meer staat te maak op lenings eerder as belastinginkomste wat sal verswak.
Die land het in 2007 ’n begrotingssurplus van ongeveer 1.3% van BBP behaal. In 2008 het dit waarskynlik alreeds ontaard in ’n begrotingstekort van 0.7% as gevolg van onbeplande besteding en belastingteenvallers. In die afgelope boekjaar het dit dus ’n ommeswaai van 2% van BBP beteken en dit was ondersteunend vir besteding en produksie in die ekonomie.
In die 2009 boekjaar kan die begrotingstekort verder vergroot as gevolg van verminderde belastingontvangstes soos die ekonomie verswak. As die begrotingstekort verder sou verswak tot naby aan 2.7% van BBP, sou dit ’n verdere 2% van BBP ondersteuning vir die ekonomie beteken.
Die swak Rand beskerm ons uitvoerders wat onderhewig is aan groot uitvoerprysdalings, en veroorsaak waarskynlik inkomstemeevallers vir sekere produsente. Terselfdertyd beteken die kelderende olieprys goeie nuus vir huishoudings en besighede, selfs al erodeer die swakker Rand baie van hierdie goeie nuus.
Verder bepaal die Reserwe Bank met sy rentekoersbesluite tot watter mate die ekonomie verdere ondersteuning geniet. Die onstuimige internasionale markte en swak Rand inhibeer rentekoersdalings op die korttermyn, maar die verswakkende ekonomie, uiteindelik dalende inflasie en internasionale herstel van finansiële stabiliteit in die loop van 2009 behoort uiteindelik ruimte te skep om ook ons rentekoerse te laat daal in navolging van al die groot sentrale banke in 2008-2009.
Hierdie skielike verslegting van ons ekonomiese vooruitsigte in 2008-2009 het baie onverwags gekom en het baie oorsake. Ons moet nou maar verlief neem dat die ekonomie vir ten minste twaalf tot agttien maande sal swaar kry, gereken vanaf middel-2008.
Daarna behoort ons saam met die globale ekonomie te herstel vanaf vroeg 2010. Voorwaar iets om na uit te sien, asook die sokker.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.