Home Articles WIK EN WEEG: VERLAMMENDE SWARTGALLIGE MISMOEDIGHEID

WIK EN WEEG: VERLAMMENDE SWARTGALLIGE MISMOEDIGHEID

186
0
SHARE

Die nuwe jaar, wat so bemoedigend begin het, het baie vinnig in ‘n ander gedaante begin ontwikkel.

Die politieke geluide wat op Polokwane gevolg het, wat veral verwys na ‘n ontwikkelingsstaat filosofie, om die produksiekant van die ekonomie aan te moedig, maar wat waarskynlik net meer herverdeling, staatsbesteding en uiteindelik inflasie sal veroorsaak.

Terwyl ons nog besig was om hierdie gedagtes te verwerk, verras Eskom ons toe, met verlammende grootskaalse beurtkrag dwarsdeur die land. Eers later het dit geblyk dat die land se kragstasies vir te lank oorbelaai was en begin uitskop het. Gebrekkige instandhouding was waarskynlik maar net een van die probleme.

Selfs die mynbou was in Januarie lam gelê vir ten minste ‘n volle week, terwyl daar in Februarie net gedeeltelike elektrisiteitsverskaffing was.

Die land het begin gewoond raak aan die gedagte, dat dit permanent met 10%-20% minder Eskomkrag sal moet klaarkom, ten minste tot dat die groot nuwe kragstasies beskikbaar gestel word erens in die volgende dekade.

Dit is moeilik om vas te stel hoe al hierdie slegte nuus mense en besighede se sienings oor die toekoms verander het. Daar was alreeds duidelik ‘n groot aanpassing op pad in verbruiksbesteding. Dit het verlede jaar gehalveer op jaarbasis, van 8-9% groei in 2006 tot 4% in die loop van 2007.

Veral motorverkope het deurgeloop. Passasiersmotors het verlede jaar 10% gedaal, en die afgelope maand weer 15% gedaal.
Die vooruitsigte vir motorverkope is tot -7% hierdie jaar, maar dit kan uiteindelik nog swakker word.

Die kleinhandel gaan ook deur ‘n beproewing, veral meubels en elektriese toebehore. Selfs die daaglikse aankopies van nie-duursame goedere en dienste is onder druk, gegewe verlies aan koopkrag vir baie verbruikers. Dit alles as gevolg van 13% kosinflasie, 24% petrolinflasie en ‘n tweederde styging in die skulddienslas relatief tot huishoudings se inkomste.

Dat dinge, inderdaad besig is om sleg skeef te loop, kan ook in die bounywerheid waargeneem word. Goedgekeurde bouplanne, aangepas vir inflasie, het sterk begin daal.

Eers was dit net vir residensiële bouplanne, veral meenthuise en woonstelle.

Ontwikkelaars is nie net getref deur die stygende rentekoerse en boukoste wat bekostigbaarheid duidelik verminder het nie. Daar was ook toenemende probleme by munisipaliteite om dienste te verskaf, veral elektrisiteit.

Dit is alles baie verder vererger toe Eskom se probleme verlede maand eers werklik sigbaar geword het. Die dempende uitwerking daarvan op die boubedryf is waarskynlik nog steeds aan die toeneem.

Vanjaar kan residensiël geboue se voltooing selfs ‘n absolute daling van 5% tot 10% wys. Hoewel hierdie segment net 10% van totale vaste investering uitmaak, is dit nogtans ‘n teken dat alles nie reg is nie.

Ons sien ook dieselfde verskynsels elders in die boubedryf. Selfs nie-residensiël, soos kantoorgeboue en kleinhandelwinkels, se bouplanne is nou besig om te daal. Dit in ‘n marksegment waar daar tot onlangs net sprake was van ‘n oplewing wat nog baie jare moes aanhou.

Daar is blykbaar ‘n redelike versigtigheid besig om pos te vat. Dit mag inderdaad nie alles verklaarbaar wees deur stygende rentekoerse, boukoste en ‘n swakker ekonomie nie. Moontlike nie-ekonomiese redes, soos munisipale probleme, om dienste te verskaf, en selfs politieke onsekerheid, mag alles ‘n rol begin speel het.

Eskom se uitwerking op vaste investering vorentoe is ook nog onseker in ander marksegmente. Sal ondernemings voortgaan met hul uitbreidings, en selfs groter koste aangaan om Eskom-onafhanklikheid te verseker? Of is mense besig om versigtig af te skaal? Dit alles gaan bepalend wees vir bestedingsvraag, maar ook vir werkgeleentheid en loonaanpassings. Dit mag ook die verloop van rentekoerse beinvloed.

Komende maande sal uitwys hoe die land werklik dink oor al hierdie dinge. Veral meningsopnames sal uitwys hoe bestuur oor sake dink, en behoort lig te werp op die vraag, of verbruikers, baie onderling van mekaar verskil.

Die eerste kwartaal van 2008 is gekenmerk deur swartgalligheid, mismoedigheid en kla oor die verlammende uitwerking van Eskom se manewales. Hopelik sal dit in die komende kwartale ietswat beter gaan soos ons dinge weer onder beheer kry, en die ergste nie oorsee gebeur nie.

Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf  www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy vrye e-pos artikels.