Daar is twee waarhede waaraan ons nie kan ontsnap nie.
Ons volhoubare groei is nog nie so hoog soos ons dit verkies nie, so ons kan nog nie volhoubaar teen 5% groei sonder om inflasierisikos te loop nie. Ons moet vir eers tevrede wees met hoogstens 4.5% BBP groei.
Terwyl ons vaste investering die land se kapitaalvoorraad in komende jare vergroot, sal ons waarskynlik ook ‘n bietjie vinniger kan groei. Maar dit sal wel tyd neem.
Ook is ons politieke baadjie bepalend vir beleidsrigting en dit op sy beurt bepaal of ons toegelaat word om voort te gaan, eerder as gepootjie te word deur finansiele markte.
Afgesien van hierdie twee waarhede is ons toekoms in die hande van buitestaanders. Dit is grootliks wêreldgebeure wat ons omstandighede en toekomstig
sal bepaal.
Daar is rede om te kla, en baie rede om breed te glimlag.
Die klaery het te doen met kommoditeits-inflasie. Energiepryse, olie so ook gas en steenkool, is besig om absurde vlakke te bereik. In ‘n vinnig groeiende wêreld is die aanvra na hierdie kommoditeite baie sterk. OPUL lande verkies egter om nuwe investerings te beperk, wat die olie-aanbod stadiger laat groei as die vraag. Met die toenemende toetrede van spekulante, word pryse net nog verder opgedruk.
Iets soortgelyks is in die landbou aan die gebeur, net meer kompleks. Die aanbodskant het wêreldwyd in afgelope jare erg gelei onder droogte in die vernaamste produksielande. Terselfdertyd is die aanvra na meer en beter kwaliteit voedsel aan die toeneem, soos inkomens in ontluikende markte sterk bly groei. Die voedseltekortte word verder vererg deur die energie-sektor se groeiende aanspraak op landbouproduksie.
Beide olie en voedselkommoditeite is besig om langtermyn veranderings te ondergaan in hul relatiewe prysvlakke. Die veranderings is blykbaar nog nie ten einde nie en sal verdere opwaartse druk op ons inflasiekoers veroorsaak.
Goeie en slegte nuus word deur die versterkende Rand aangedra. Die goeie nuus is dat dit die olie en voedsel prysskokke gedeeltelik neutraliseer en ook algemene inflasiedruk in die ekonomie teenwerk.
Die slegte nuus is egter dat dit ten koste van baie van ons produsente gebeur, veral in die vervaardigingswese, wie se handelsmededingend verlore gaan soos die Rand verder versterk. Dit ondermyn weer die ekonomie se groei, maar vererger ook ons lopende rekeningstekort.
Wêreldgebeure is tog gunstig vir Suid-Afrika, so lank as wat groei gehandhaaf word, kommoditeitsvraag en pryse gunstig bly, en buitelandse kapitaal bly toestroom. Dit is hierdie aspekte waar die grootse voordele vir Suid-Afrika ervaar word.
Ons ervaar huidiglik nie eintlik ‘n kapitaaltekort nie, selfs nie met ons baie lae binnelandse besparingskoers nie, aangesien ons redelik maklik kapitaal van buiteaf
kan bekom.
Die kapitaalinvloei is egter van so ‘n groot omvang dat dit die Rand se wisselkoers sterk ondersteun, inflasie help afdruk en rentekoerse redelik laag hou. Dit op sy beurt bly baie ondersteunend vir ons groeiproses.
Ons het inderdaat vandag ons eie groei engin geskep, in die vorm van die infrastruktuurbehoeftes wat nou deur die staat op groot skaal aangepak word. Hierdie investeringsvraag op sy eie is goed genoeg om die ekonomie vir jare aan die kook te hou.
Verder is daar ook nog privaatsektor investeringsvraag wat selfs groter as die infrastruktuurbehoeftes is en net so vinnig hardloop. Huishoudings se verbruik bly ook groei, gegewe goeie loonsverhogings en uitbreiding van werksgeleenthede. Dit alles hang nou tesame en handhaaf redelik vinnige BBP groei van 4.5%-5% per jaar.
Sonder die buitelandse ondersteuning sou ons ‘n baie swaarder pyp gerook het, baie meer self moes gespaar het en minder verbruik het om ons vaste investerings self te kan finansier. Die wêreldgebeure gaan egter voort om ons te bevoordeel en hoef ons self minder by te dra.
Die vinnige BBP groei, die relatief lae rentekoerse, en die goeie vooruitsigte word uiteindelik gereflekteer in sterk groeiende aandeelpryse op die beurs soos dit plaaslike maar ook internationale vertroue
weerspiel.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van
First National Bank. Besoek sy webwerf
www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy vrye e-pos artikels.