WIK EN WEEG: SWAKKER KOMMODITEITSPRYSE
Dit is vroegdag om te wil spekuleer oor goeie tye. Maar daar is veranderings op pad wat uiteindelik die ekonomie weer ’n hupstoot kan gee.
Dit is egter ‘n komplekse storie, van gee en neem, met miskien nuwe wenners maar dalk ook verloorders.
Internasionaal is daar groot woelinge, soos die VSA ekonomie se groeikoers wat verlangsaam het tot ‘n skrale 1.9% in die tweede kwartaal 2008, nie veel meer as Europa en Japan nie. Inderdaad is daar redelik baie lande, veral in Europa, wat na die rand van resessie beweeg.
Eerstens is hierdie swakte ‘n gevolg van die afgelope jaar se behuisings, krediet en bankkrisisse wat ekonomiese aktiwiteit behoorlik laat afneem het.
Tweedens het die kommoditeits-gedrewe inflasieskokke baie lande se sentrale banke genoop om rentekoerse te verhoog. Die kombinasie van verminderde koopkrag en kleiner besteebare inkome het ook nie sonder resultaat gebly nie.
Vroeg in Julie het die olieprys nog $147 per vat gehaal, maar toe kom die terugslag. VSA olievoorrade het ietwat gestyg, die Amerikaners het steeds minder motor gery (3.5% af oor die jaar) en die VSA olie aanvraag het met 4.5% gedaal, met nog verdere dalings in die vooruitsig.
Dit, en likwiditeitsprobleme in die termynmarkte as gevolg van kredietprobleme, het veroorsaak dat spekulante koue voete begin kry het.
Die olieprys het skerp gedaal, by middel-Augustus alreeds tot $110. Ander metaalpryse, soos koper, is ook meegesleur. Landboukommoditeitspryse is afgedruk deur goeie weersomstandighede in belangrike produksiegebiede.
Dit is glad nie duidelik hoe ver kommoditeitspryse nog kan daal of dat hulle dalk later vanjaar weer kan herstel nie. So baie faktore het vandag ’n uitwerking op hierdie markte dat dit baie moeilik is om toekomstige prysverwagtings vir lank vas te stel.
Tog bestaan daar wel ’n moontlikheid dat teleurstellende ekonomiese groei sommige kommoditeitspryse tydelik kan afdruk, wat mense oorsee laat spekuleer oor oliepryse van tussen $80 tot $100 volgende jaar.
Die slegte nuus vir Suid-Afrika is dat ook van ons belangrikste uitvoerpryse aan die daal is. Indien die netto effek tussen dalende invoer- en uitvoerpryse negatief sou uitwerk, sal ons lopende rekeningtekort net nog verder styg.
Dit sou implikasies kan inhou vir die Rand (swakker) en uiteindelik ook inflasie. Maar as ons genoegsame buitelandse kapitaal kan bly trek, behoort dit nie ’n te groot probleem te wees nie.
Die goeie nuus is dat ons inflasiekoers, wat in ieder geval volgende jaar ’n afdraende paadjie behoort te loop vir tegniese redes, nou moontlik nog vinniger kan daal. Dit op sy beurt sal gunstige implikasies inhou vir rentekoerse, wat ook kan begin daal.
As die olieprys gemiddeld $125 sou handhaaf, met huidige voedselprysneigings en ’n Rand van 7.50-7.90:$, met Eskom tariefaanpassings ingebou, behoort ons VPIX inflasiekoers ’n hoogtepunt van 13.5% te bereik in 2H2008, waarna dit vroeg in 2009 tot 8% kan daal, en selfs 6% kan bereik teen jaareinde 2009.
Indien kommoditeitspryse verder sou verswak, en die Rand stewiger sou vertoon as veronderstel, sou die VPIX daling selfs vinniger kan geskied. Dit in groot teenstelling met wat sou gebeur indien die oliepryse en voedselpryse weer die hoogte sou inskiet, en die Rand sou verswak.
As ons mag aanvaar dat globale groei nou genoegsaam aan die afkoel is om die kommoditeitsvraag en –pryse afwaarts aan te pas, het ons rede om te glo dat die Reserwe Bank nie lank op hom sal laat wag nie.
Die ekonomie is alreeds baie papperig en om rentekoerse onnodiglik hoog te hou terwyl die inflasie begin daal, sou verregaande wees.
Tog spook daar nog ander vrese wat ook besweer sal moet word, veral ten opsigte van die oorsese kredietgebeure, die onsekerhede wat daarmee gepaard gaan, ons groot betalingsbalanstekort en die risiko’s wat daaruit voortspruit en ons beleidsmakers lig laat loop.
Tog, as sake gunstig sou verloop, sou die Reserwe Bank selfs al hierdie jaar rentekoerse kan verlaag, moontlik met 0.5% in Desember 2008, met die primakoers wat op 15% te staan kan kom.
Volgende jaar sou daar selfs nog verdere verlagings kan plaasvind, met ‘n primakoers wat by jaareinde 2009 op 13% sou kon eindig.
Hierdie vooruitsig word alreeds op ons beurs en in ons kapitaalmark gereflekteer. Die ekonomie sal waarskynlik langer vat om te reageer, aangesien die rentekoerse lank gestyg het en nog steeds in die ekonomie deurwerk.
Maar wanneer rentekoerse eers begin daal het, sal dit waarskynlik nie te lank vat vir die ekonomie om daarop te begin reageer nie.
Baie hang dus af van internasionale gebeure, veral die kommoditeitspryse en hoe dit ons inflasie en rentekoerse bëinvloed.
Nogtans, die vooruitsigte vir 2009 mag meer rooskleurig wees as wat tot onlangs verwag was.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.