Fokus op langasem groei
Die resessie is alweer iets van die byna verre verlede soos ons op 2010 se herstel fokus, en by dit verby probeer kyk na die jare wat daarna volg. Daar is nie juis iets wat ons nou regtig terughou nie, hoewel daar wel kanttekeninge is. Die tradisionele betalingsbalansbeperking is nie eintlik daar nie, met kapitaal wat ryklik invloei, ons binnelandse besparing aanvul en ons lopende rekening tekort met gemak finansier.
Inflasie was hoog (bo 13%, maar net tydelik, in 2H2008) en het sedertdien mooi afgekom, met 3%-5% wat vorentoe wag, afhangende van verwikkelings.Owerheidsbeleid is mooi ondersteunend, met die groot begrotingstekort van 7.5% van BBP en rentekoerse wat met 500 basispunte in 2009 verlaag is. Batemarkte wat eers gekelder het maar toe mooi herstel het, aandele met meer as 50%, selfs ook huispryse wat in middel 2009 ’n onderste draaipunt bereik het. Selfs boere glimlag, hoewel nie in die Suid-Kaap waar droogte nog steeds septer swaai nie.
My liewe mens, wat wil jy nog meer? Tog is daar goed wat baie mense pla. Veral die sterk Rand wat waarskynlik nog sterker sal raak in 2010. Die intimiderende skuldlas van baie huishoudings, hoewel die skulddiensverhouding (rente betaal as persentasie van besteebare inkome) meer belangrik is (en dit is af!). En uiteindelik is dit ’n kwessie van vertroue, onder sakelui en verbruikers, asook banke. Is banke bereid om krediet te verleen (ja-nee), verbruikers bereid om dit op te neem (nee of tog wel?) en is ondernemers bereid om weer meer risiko te neem? Vir ’n wyle in 1H2009 het dinge maar baie rof gegaan op al hierdie fronte, maar geleidelik is daar tog verbeterings te bespeur, en waarskynlik nog verdere verbeterings vorentoe.
Daar is wel die gevaar dat die betalingsbalansbeperking in die toekoms weer sal terugkeer soos kapitaal eendag weer uitvloei, maar dis vroegdag om nou daaroor te kla. En inflasie sal seker weer een dag styg soos kommoditeitspryse oorsee weer begin probleme gee, en dan sal die Reserwe Bank weer rentekoerse moet opsit. Dit is egter ook eers in die toekoms. Vir nou is die prentjie baie gunstig en behoort dit net beter te gaan soos die globale herstel verder ontwikkel.
Daar sal seker terugslae wees, nou en dan, maar die sikliese verloop behoort vir eers te versterk eerder as te verswak soos die Ooste lei en die Weste baie hard probeer om sy sake reg te kry om die onlangse insinking ongedaan te maak. En dit kan ons nog jare se goeie ekonomiese groei gun.
Baie van ons ekonomiese deelnemers (boere, vervaardigers, mynbou, toeristebedryf) sal maar swaar kry onder ’n sterk Rand, maar dit sal ook help om inflasie af te druk, koopkrag van verbruikers te verbeter en binnelandse vraag verder aan te wakker, terwyl rentekoerse voorlopig, soos oorsee, laag behoort te bly. Dus die ekonomie verloor aan die een kant, maar dit wen ook met ’n sterk Rand.
Die grootste uitdaging is waarskynlik durf. Om durf te hê om dinge te doen, soos skuld aangaan, mooi goed aanskaf, selfs sorgloos so, en vir ondernemers om groter uitbreidings aan te pak en meer mense in diens te neem. Die staat doen dit grootskaals, maar is dan ook bang vir niks nie (hulle speel met ons belastinggeld, nie enige eie inkome nie, behalwe politieke reputasie). Dis dan tog makliker om op groot skaal dinge te doen, eerder as dat ’n mens in eie reg weer meer risiko loop.
Tog sal ’n normale ekonomiese herstel presies dit vereis en bly dit die hoofverwagting, al het ons tyd nodig om die vrese en pyn en lyding van die onlangse verlede weer te vergeet, en opnuut die toekoms aan te durf. Die Minister van Finansies begroot maar ’n skamele groei van net 1.5% vir 2010, meer vir die jare daarna. Dit is seker goed dat sy beramings ietwat konserwatief is en ons moontlik bly verras word met ’n meer positiewe werklikheid. Ook help ’n meer konserwatiewe benadering die regering om die sosiale eise van alle kante so bietjie te besweer.
Tyd sal wel leer hoe sterk of swak die ekonomie werklik in 2010 gaan presteer. Dit mag dalk tog ’n bietjie beter gaan as die mees pessimistiese vooruitskattings soos mense hul koppe lig en ons spoed optel. Die stygende aandeelpryse en huismarkherstel sal seker ook ’n groot sielkundige bydrae maak, en ons moet by die stygende werkloosheid probeer verby kom en weer mense in diens begin neem. Dit is die aanmoediging waarna mense soek, asook minder angs oor rentekoerse wat weer eendag kan styg.
Dit alles vat tyd. Maar ons werk aan die pad. Byna almal van ons. En ons sal seker weer daar uitkom. Soos so vele kere in die verlede.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.