Dit is miskien nie vir almal vanselfsprekend om op ekonomiese herstel te begin sinspeel, wanneer die ekonomie duidelik in die diepste deel van sy huidige sikliese trog verkeer nie.
Tog waarborg die aard van hierdie sikliese afswaai, en die enorme beleidsaksies, veral oorsee, dat daar wel ’n opswaai kom.Ons plaaslike ekonomiese nuus in onlangse maande was baie swak. Motorverkope wat steeds 30% daal, mynbouproduksie wat oor die 20% benede 2007 se vlakke verkeer, die boubedryf wat nog verswak, vervaardigingsproduksie 15% laer as laasjaar.
Selfs elektrisiteitsvoorsiening is 11% minder as ’n jaar gelede, bloot omdat die ekonomie se tjank afgetrap is. Die groot elektrisiteitsverbruikers, naamlik mynbou en swaar industrie, gebruik eenvoudig minder omdat hul produksie baie laer is.
In huidige omstandighede is DIT juis ’n gelukkie, gegewe ons elektrisiteitskrisis van die afgelope jaar en die beperkte kapasiteit om elektrisiteit op te wek vir ten minste die volgende vier of vyf jaar.Hoewel ’n herstellende ekonomie weer die vraag na elektrisiteit sal laat toeneem, het ons per toeval in ’n groot internasionale geldkrisis vasgeloop, net toe ons eie energieprobleme gedreig het om ons te oorrompel.
Gedurende 1Q 2009 was dit nag in groot dele van die ekonomie, met byna die helfte van die ekonomiese sektore wat 10% tot 20% gedaal het, te vergelyk met verlede jaar. Vir baie produsente het dit broekskeur gegaan en gaan dit nog steeds so in 2Q 2009. Tog is daar ’n liggie aan die einde van die tonnel te bespeur.
FNB/BER verbruikersopnames toon steeds ’n aansienlike vlak van vertroue aangaande Suid-Afrikaners se eie finansies. Baie verbruikers is egter al vir byna drie jaar lank nie bereid om groot duursame aankope te maak nie, en besluite word vandag steeds uitgestel. Ons weet egter dat bestaande duursame goedere (motors, meubels, toebehore) ouer raak en uiteindelik vervang MOET word.
Dit bly ’n kwessie van tyd.
In tussentyd het ons rentekoerssiklus sedert Desember laasjaar met sy afswaai begin en word daar meer dalings verwag, met ’n prima uitleenkoers van 11% in die vooruitsig pleks om na 18% te styg. Dit maak ’n enorme verskil aan mense se verwagtinge en wat hulle bereid is om te doen.
Nog belangriker is dat die internasionale geldkrisis einde se kant toe staan, maar ook dat die globale resessie tot ’n einde sal kom. Die gebeure sedert middel-2008 het baie mense vreesbevange gemaak en versigtig gestem. Eers wanneer dit blyk dat die ergste nie gaan gebeur soos in die 1930s ervaar is nie, sal mense meer ruimdenkend raak, oor wat hulle kan bekostig en watter risikos hulle kan neem.
Tog is die einde van hierdie krisis wel in sig, omdat baie lande se owerhede en sentrale banke aggressief hierdie probleme aanspreek met verhoogde staatsbesteding, laer belastings, rentekoerse en ondersteuning vir banke.
Daar is twee soorte bewyse. Die een is die ekonomiese data oorsee, waar die toekomsgerigte data oor verwagte voorraad- en produksievlakke tekens van stabilisasie en komende herstel begin vertoon. Dit alles, aangesien ’n groot deel van die ekonomiese swakte toeskryfbaar is aan onsekerheid onder sakelui en gevolglike voorraadafskaling.
Die tweede teken word deur aandelemarkte gelewer.
Soos die bankkrisis stelselmatig aangespreek word, veral in Amerika maar ook in Europa, kan ons ’n geleidelike terugkeer van vertroue en herstel in die kredietproses verwag. Dit behoort ook weer ondersteunend vir ekonomiese aktiwiteit te wees, veral ook om die wydverspreide vrese in baie lande te besweer. Soos hierdie vrese afneem, behoort verbruikers weer duursame goedere te vervang, ondernemings behoort minder defensief op te tree, produksie behoort weer te styg en uiteindelik sal ook bedryfinvestering begin herstel.
Hoewel skeptisisme hoogty voer, word daar alreeds in 3Q 2009 groeiherstel in Amerika, China en Japan, en uiteindelik ook in Europa en ontluikende lande verwag.
Suid-Afrika behoort ook hierby te baat. Groter fiskale tekortte en laer rentekoerse behoort ons verbruikers uiteindelik weer aan te spoor om duursame goedere op groter skaal aan te koop. Verder sal groter internasionale vertroue ook ons verbruikers en besighede aanspoor om minder defensief te wees, en ons uitvoerproduksie opnuut te stimuleer.
Ons resessie het waarskynlik vroeg in
2009 sy laagtepunt bereik. Die 3Q 2009 behoort alreeds minder erg te wees en in
4Q 2009 kan die ekonomie weer begin groei. Daarna kan ons weer ’n lang ekonomiese opswaai verwag, gegewe groot ekonomiese onderbenutting oorsee. Die beleidstimulasie, lae inflasie wat nog ’n geruime tyd met ons sal wees, die herstel in kommoditeitsvraag en –pryse soos China se groei weer kopoptel, en soos ons internasionale toegang tot kapitaal opnuut verbeter.
Tog sal die komende groeiperiode waarskynlik redelik tam bly, rondom 3%-4% jaarliks, gegewe groot onsekerhede wat internasionaal maar ook plaaslik seker nog lank sal vat om volkome te verdwyn.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf
www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.