Die ekonomie is nie vlak water waarin niks aangaan nie. Elke liewe dag is daar veranderinge, soos ‘n mens sou verwag in diep onstuimige poele van buite af, in die markte, en natuurlik in die politiek.
Selfs met ‘n oorlog in Irak, baie hoë oliepryse, ‘n huismark in Amerika wat lyfstraf ondergaan, ‘n kredietskok wat orals ‘n uitwerking het, direk of indirek, bly die wêreldbeeld nogstans ondersteunend.
Die wêreldekonomie bly sterk groei gerig, veral in baie ontluikende lande, waar uitvoere en vaste investering die groot dryfvere is.
Daar is wel regionale swakte, soos in Amerika, wat sy behuising- en kredietskokke probeer absorbeer, maar die geheelbeeld bly ondersteunend vir ‘n ontwikkelende land soos Suid-Afrika.
Na jare van stygende kommoditeitspryse en groot kapitaal invloeie, is dit nie onredelik om minder gunstige omstandighede te verwag nie. Tog mag die wêreld langer ondersteunend bly as verwag.
Die sleutel is groei wêreldwyd, maar ook laer rentekoerse in Amerika en moontlik ‘n swakker Dollar. Hierdie kombinasie van faktore kan kommoditeitspryse en ons kapitaalinvloeie bly ondersteun, selfs op skouspelagtige wyse.
Die Rand wisselkoers het in onlangse maande weer begin versterk. Dit hoef nie net standhoudend te wees nie, soos die Rand se baie fluktuasies in die verlede al gewys het. Tog mag ons dalk lank ‘n redelike sterk wisselkoers hê.
‘n Sterk wisselkoers kan help om inflasie hok te slaan. Ons rentekoerse is al met 3.5% sedert die middel van 2006 verhoog, met die bedoeling om inflasie aan te spreek. Dit het egter ook ons groeikoers begin ondermyn, soos ons daagliks kan sien in dalende motorverkope en ander duursame verbruiksgoedere.
Ons wil duidelik nie hê dat inflasie moet handuit ruk nie, maar net so wil ons nie te veel Bruto Binnelandse Produk (BBP) groei prys gee nie, gegewe al ons sosiale probleme.
Die huidige inflasiedruk kan tot ‘n mate aangespreek word deur minder vinnig te groei en minder druk op produksiefaktore soos arbeid te plaas. Maar inflasie wat van buite kom, soos verhoogde olie en kospryse, is soos ‘n perd van ‘n ander kleur.
Ingevoerde inflasie kan gedeeltelik geneutraliseer word deur ‘n sterk Rand, wat dan verhoogde rentekoerse minder noodsaaklik maak.
Dit sal moet blyk hoe omstandighede vorentoe bly verander. Die Reserwebank het alreeds rentekoerse aansienlik verhoog, en hoewel inflasie nog verder sal styg in komende maande, is daar tog die verwagting dat dit weer volgende jaar sal kan daal.
As wêreldgebeure die Rand sou bly ondersteun, sou ingevoerde inflasie dalk minder heftig kan wees as wat ons tot datum ervaar het.
Dit op sy beurt sou die Reserwebank gewillig kan maak om nie rentekoerse te vêr te verhoog nie en BBP groei onnodiglik in 2008-2009 te verminder nie.
Soos dinge nou lyk, sal BBP groei volgende jaar verswak tot 4%, hoewel ‘n goeie lanbou-oes die groei weer sou kan aanhelp. VPIX inflasie sal waarskynlik 7% verbysteek maar dan weer onder 6% daal. Randsterkte nader aan 6:$ sou beslis help om inflasie volgende jaar nog verder af te druk. Dit op sy beurt mag die Reserwebank dalk oortuig om nie rentekoerse verder op te stoot nie.
Desember 2007 sou dus kan verras as daar nie verdere rentekoersverhogings is nie. Twee of drie rentekoers-dalings kan dalk ‘n moontlikheid raak in laat 2008 en vroeg 2009.
Dit is beslis nie duidelik wat die toekoms alles met ons wil maak nie. Ons beleidsmakers sal hulle waarskynlik laat lei deur daaglikse gebeurtenisse en die manier waarop dit ons ekonomiese speelveld sal verander. Tyd sal leer of rentekoerse alreeds hul hoogtepunt bereik het.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy vrye e-pos artikels.