DIE EKONOMIE WIK EN WEEG OOK
Ons het by ’n punt gekom, waar inflasie waarskynlik sy hoogtepunt bereik het, en rentekoerse kan begin daal. Volgende jaar behoort nuwe woema aan die ekonomie te gee, veral huishoudings met skuld wie se verbruik opnuut mag versnel, alhoewel besighede se investeringsbesluite deur infrastruktuurbeperkinge gekniehalter mag word.
Dit is egter ook so dat die Rand al geruime tyd besig is om te verswak, veral onlangs. En dit verskaf ook woema aan die ekonomie, vernaamlik aan produsente, veral uitvoerders en die wat met invoer meeding (die sogenaamde handelssektor in die ekonomie).
En die moeilike besluit wat ons beleidsmakers in die gesig staar is hoeveel woema in totaal toelaatbaar is en wie dit moet kry, afgesien van enige belastingverligting (onwaarskynlik) of groter besteding (hoogs waarskynlik).
Die fiskale surplus het alreeds verdwyn (geabsorbeer deur ruim salarisverhogings vir die staatsdiens, en geldjies vir Eskom), iets wat polities waarskynlik onvoorkombaar was en nie eintlik onderhandelbaar was nie.
Die Rand word hoofsaaklik aan markkragte oorgelaat, het alreeds verswak en mag verder verswak, iets waaroor ons beleidsmakers geen werklike beheer het nie.
Die rentekoersbeslissings is dus die enigste werklike diskresionêre besluit wat geneem sal kan word. So, hoeveel van ‘n rentekoersverlaging kan ons werklik bekostig, gegewe die groot lopende rekening tekort?
Die fiskale verslapping kan moontlik 1% van BBP beloop volgende jaar, alhoewel die politiek en die verswakkende ekonomie die finale woord het.
Die Rand se stimulerende uitwerking is ’n ingewikkelde storie. ’n Dalende Rand skep meer inkome vir sommige produsente. Maar ons uitvoermarkte is aan die verswak (daar is sprake van resessie oorsee) en kommoditeitspryse is aan die daal, wat ook weer internasionale mededinging verskerp en ons winsgrense afdruk.
Hierdie realiteite maak ’n swak Rand minder ekonomies stimulerend as wat die geval is in beter tye.
Die Rand verswak al sedert dit tydelik oorgewaardeer geraak het in 2005 en by 5.60:$ gedraai het.
Die gemiddelde Rand/Dollar wisselkoers het van 6.36:$ in 2005 met 6% na 6.76:$ in 2006 verswak en toe weer met 4% tot 7.05:$ in 2007 verswak. Daar was ’n verdere 10% verswakking in die eerste agt maande van 2008.
Hierdie prentjie moet egter objektief beskou word. Daar was ook inflasie gedurende hierdie jare, plaaslik en oorsee. Die relatiewe inflasieverskil moet ook in aanmerking geneem word. Dit doen ons deur na die effektiewe wisselkoers te kyk, gemeet aan ‘n geweegde mandjie van wisselkoerse van ons belangrikste handelsvennote.
Hiervolgens was die Rand effens oorgewaardeer gedurende 2003-2007, wisselend tussen so min as 3% in 2003 en 2007 en soveel as 10% in 2004-2006.
Die Rand se verswakking sedertdien verteenwoordig dus eintlik eers ‘n normalisasie soos die ekonomie minder oorverhit geraak het die afgelope twee jaar, iets wat ook in aanmerking geneem behoort te word.
Die geweegde Rand se werklike daling in 2008 tot op datum beloop egter al byna 10%. Dit begin nou optel, al moet ons nog steeds die strammer oorsese handelstoestande ook in ag neem.
‘n 1% vermindering van rentekoerse is gelykstaande aan die uitwerking van ‘n 10% daling in die Rand.
Hiervolgens is die twee rentekoersverhogings van April en Junie 2008 eintlik al grootliks (maar nog nie ten volle) geneutraliseer deur die 10% Rand daling wat ook in hierdie periode plaasgevind het.
Tot op datum het die Reserwe Bank rentekoerse met 5% verhoog, wat eintlik maar hoofsaaklik die styging in VPI inflasie van 4.5% (die teiken se middelpunt) tot 9.5% verteenwoordig.
Die ekonomie is egter alreeds ‘n Rand daling gegun, wat verligting bring. Mits die geweegde Rand op huidige vlakke stabiliseer, kan die Reserwe Bank dit oorweeg om rentekoersdalings toe te staan wanneer VPI inflasie tot onder 9% beweeg.
Dit kan miskien alreeds in Januarie-Februarie 2009 gebeur.
Die groot vraag is egter hoe ver die Rand nog kan daal (of selfs versterk) in komende maande.
As die Rand verswakking huidiglik hoofsaaklik ‘n versterkende Dollar internasionaal reflekteer, is daar nie juis sprake van werklike Rand daling nie.
Inflasie oor die komende jaar is waarskynlik op pad na 5%-6% soos kommoditeitspryse verswak en tegniese veranderings gemaak word aan die meting van VPI inflasie.
Dit suggereer 3%-4% speelruimte om rentekoerse te sny, maar waar die fiskale bydrae waarskynlik al 1%-1.5% vir sy rekening neem.
Dit skep nog steeds ruimte vir rentekoersdalings van ten minste 2%-3% (vergeleke met die 5% styging van die afgelope twee jaar).
Die belangrikste vraag is egter wat die Rand gaan maak. Elke 10% verdere daling in die geweegde Rand vorentoe, aangepas vir relatiewe inflasiekoerse, is rofweg gelyk aan ’n 1% rentekoersdaling.
Ons uitvoerders en produsente wat met invoerders meeding sal sekerlik graag al die voordeel van die beperkte beleidsruimte verkry. Hulle wil graag ’n baie swakker Rand nader aan 10:$.
Huishoudings en besighede met baie skuld sou sekerlik liewerste ’n meer stabiele Rand nader aan 8:$ sien om uiteindelik ’n 2%-3% rentekoersdaling te kry.
Wenners en verloorders orals waar jy kyk. En so baie word nie bewustelik deur ons besluit nie maar deur omstandighede waaroor ons min beheer het.
Net die rentekoersbesluit is iets wat duidelik onder ons beheer is. Tog bly dit afhanklik van gebeure.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.