Hierdie Keer is dit Anders
In 2002 het die SA Reserwe Bank die repokoers vier keer verhoog met ‘n kumulatiewe 4% in ‘n kwessie van nege maande. Die prima rentekoers het vanaf 13% na 17% gestyg, met ander woorde met byna ‘n kwart.
Maar daar was toentertyd geen resessie nie. BBP groei het hoogstens “wind gesluk”, maar toe mooi herstel. Waarom dan die bohaai nou, waar die Reserwe Bank rentekoerse met 5% laat styg het oor twee jaar en nou waarskynlik einde se kant toe staan?
Die geheim van die situasie is relatiewe groothede.
In 2001 het die Rand met oor die 100% verswak waarna dit in 2002 begin herstel het. Die Rand verswakking het baie produsente ‘n groot voordeel besorg, uitvoerders direk en invoer-mededinging indirek.
Inderdaad het die 4% rentekoersstyging slegs die Rand se stimulerende uitwerking geneutraliseer. Ook het die pyn nie lank geduur nie. Die groot fees het in 2003 alreeds begin, met 6.5% rentekoersdalings.
In kontras lyk dinge huidiglik heel verskillend. Die Rand was verlede jaar gemiddeld 7.05:$. Vanjaar is dit net 10% swakker. Produsente het dus hierdie keer geen vreugde uit die Rand geput nie, veral wanneer aangepas vir 10% inflasie.
Die prima rentekoers het egter kumulatief met 5% of byna met die helfte vanaf 10.5% na 15.5% gestyg. Dit teen die agtergrond van ‘n huishoudelike skuldlas 50% groter relatief tot inkome as in 2002. En baie van die ekstra skuld is opgeneem deur nuwe middelklas huishoudings met min addisionele bates. Vir baie mense is daar hierdie keer niks om op terug te val nie.
Die inflasieskok het ons in 2002 ook by die 10% vlak verby laat trek, net soos hierdie jaar, selfs al pas ons inflasie aan vir ‘n nuwe mandjie gewigte gebaseer op die jongste beskikbare bestedingspatrone van verbruikers.
Maar lone en salarisse in daardie periode het nominal vinniger toegeneem as tans. Hierdie keer boer sommige verbruikers se koopkrag regtig agteruit. Werkgeleentheid gaan vanjaar en volgende jaar daal, wat nie toe die geval was nie. En huispryse val hierdie keer boonop in nominale terme gemeet op ‘n maand op vorige maand basis en laat baie mense armer voel. Dit was nie destyds die geval nie, inderdaad die teenoorgestelde was waar.
So huishoudings is hierdie keer regtig met meer as net een slap riem gevang, wat gereflekteer word in byvoorbeeld hul verlies aan vertroue, die afname in motorverkope (-42%) en die swak kleinhandelverkope in die algemeen.
Maar dit strek verder as net huishoudings. Besighede se voorraadvlakke het gestyg, aktiwiteitsvlakke in baie sektore het gedaal, werkgeleentheid word nou verminder. En vertroue ten opsigte van vaste investering is laer, veral in die boubedryf, hierdie jaar alreeds vir die residensiële sektor as gevolg van onbekostigbaarheid, en vanaf volgende jaar heel moontlik ook vir kommersiële geboue onder andere as gevolg van elektrisiteitsprobleme.
Dit is egter nie alles slegte nuus nie.
Landbou ervaar hierdie keer ‘n bloeitydperk, uiteraard ‘n meevaller. Die siviele konstruksiebedryf ervaar wonderlike tye as gevolg van die groot infrastruktuur programme van die owerheid. Enige besigheid wat hierdie sektore bedien doen dus relatief goed en sal so voortgaan oor die korttermyn. En die staatsdiens weet in ieder geval nie wat resessie is nie. Ten minste 25%-30% van die ekonomie doen dus wonderlik en sal wonderlik bly doen.
Maar dit is in die res van die ekonomie waar dinge baie lelik lyk en daar toenemend harde bene gekou word.
Dit is waar dit nou werklik broekskeur gaan. Werkgeleenthede gaan verlore, en winsgrense kom onder druk. jaareindbonuses lyk nie te rooskleurig nie, en terwyl verbruikers minder optimisties raak moet die gordel stywer ingetrek word.
Die woord ‘resessie’ is waarskynlik te sag om te beskryf wat werklik aangaan in hierdie deel van die ekonomie. Dag het nag geword, sommer so, baie skielik. Dit is hoe mense uit talle oorde dit beskryf, die uitsonderlike snelheid waarteen die situasie verander het, en die omvang van die dalings wat waargeneem word.
En nog is dit nie die einde nie, selfs al sou die Reserwe Bank nie rentekoerse in Augustus verder verhoog nie. Want die April en Junie rentekoersverhogings is nog steeds besig om deur te suurdeeg in die ekonomie.
Mense is nog steeds besig om minder optimisties te raak, duursame verbruiksaankope en vaste investeringsbesluite uit te stel, voorraadvlakke en werkgeleenthede te verminder.
Dit hoef uiteindelik nie in ‘n algemene resessie, met ander woorde twee of meer kwartale van dalende BBP vlakke en werkgeleentheid, te ontaard nie.
Maar ten minste die helfte van die ekonomie sal dit beslis wel voel en ‘n groot deel daarvan sal werklikheid wees. Byvoorbeeld die motorhandel en die mark vir meubels, huishoudelike toebehore, kleding en skoeisel. Ander sektore soos restourante, die eiendomsmark, vakansiegeriewe, die boubedryf en die mark vir boumateriale gaan maar swaar trek oor die korttermyn.
Hierdie keer is die klap groter. En daar is geen noemenswaardige Rand daling wat baie produsente se inkomste sal kan beskerm nie. Hierdie keer is dit inderdaad die ware Jacob. ‘n Bielie van ‘n swaarkry vir baie huishoudings en besighede. Dit wys ook so in vertrouensvlakke wat sterk aan die daal is onder die meerderheid van bestuurders en huishoudings.
En die ergste moet nog kom in die maande vorentoe, selfs al verhoog die Reserwe Bank nie rentekoerse verder nie.
Herstel behoort eers volgende jaar een of ander tyd sy opwagting te maak. Maar dis eers oor heelwat maande.
Vasbyt. Tyd om gordel in te trek en kontantvloei noukeurig dop te hou. En onthou dit is altyd op die donkerste voor die dag breek. Die son sal weer skyn en die kruin van die heuwel sal weer bereik word.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy vrye e-pos artikels.