Daar is onteenseglik tekens van ekonomiese herstel. Daar is egter ook enorme bedenkings oor wat nog kom. Die herstel sal stadig en moeisaam wees, met aansienlike risiko’s wat oorwin sal moet word. Egter ook geleenthede, sekerlik in sommige sektore van die ekonomie.
Wenners gaan daar wees. Egter ook verloorders. Die eerste helfte van vanjaar (1H2009) het alreeds in baie opsigte sy onderste draaipunte gewys. Nie-goud mynbouproduksie het met 23% in 4Q2008 geval, maar het sedertdien alweer met 15% gestyg. Elektrisiteitsproduksie het met 10% in 4Q2008 geval, maar het vanaf Februarie hierdie jaar alweer met 10% gestyg. En selfs vervaardigingsproduksie het oor agt maande met 15% gedaal, maar het sedert April 2009 alweer met 4% gestyg.
Tog was dit nie alles rosegeur en maanskyn nie. Maandelikse motorverkope het op 33 000 eenhede vasgeval, die helfte van wat dit drie jaar gelede was. Net so die aantal maandelikse eiendomstransaksies. Bouplanne goedgekeur is steeds 50% laer as ’n jaar gelede.
Die kleinhandel doen ook nie baie goed nie. Verkoopsvolumes is af vergeleke met laasjaar en het die afgelope klompie maande net sywaarts beweeg. Dit is alles as gevolg van krimpende inkomstes en moeisame kredietverlening (nie net omdat die banke strenger geraak het nie, maar ook omdat so baie mense nie juis wil leen of koop nie, soos uitgewys deur opnames, veral die FNB/BEO verbruikersvertroue opname). Die boubedryf ervaar die slegste tye in dekades, veral aan die behuisingskant, maar ook elders. Selfs die konstruksiebedryf sloer nou, met aktiwiteitsdalings voorspel vir volgende jaar soos die privaat sektor vaste investering terughou en die openbare sektor sloer met infrastruktuurprojekte.
Nog groter uitdagings wag egter om die draai. Die landbou het sy insetkostes drasties sien styg, maar van sy produkpryse weer sien daal. En droogte het nou al 15 jaar nie sy tande gewys nie, maar ons weet die siklus moet een of ander tyd draai, en dan verloor die land sommer baie produksie in een of meer seisoene.
Die grootste gevaar kom egter weer van die kant van internasionale gebeure. Eers word ons geklap (2008) deur die groot bankkrisis en sy uitwerking op ekonomiese produksie. En nou moet ons toesien hoe die internasionale reddingsaksies groot likwiditeitskepping tot gevolg het wat groot kapitaalinvloeie by ons veroorsaak. Eers lyk hierdie stand van sake gunstig, aangesien ons nou minder probleme het om ons handelstekort te finansier en aandelepryse styg lustig as gevolg van al hierdie internasionale belangstelling.
Feit bly egter staan dat die beleidsaksies oorsee op so ’n groot skaal aangepak word, en rentekoerse so laag is (tot by nul) en dit so lank sal aanhou (seker einde 2010) dat daar veels teveel geld begin skuif na plekke wat nog ’n redelike opbrengs bied soos Suid-Afrika. En dus kry ons teveel buitelandse kapitaalinvloeie wat die Rand net sterker druk, in September by 7.30:$ verby terwyl 8:$ alreeds probleme gee vir baie produsente. Die sterk Rand krap en dit gaan waarskynlik erger raak. Soos die Rand verder versterk, kan ons maar aanvaar dat dit die binnelandse herstelproses skade kan berokken. Terselfdertyd bly ons banke maar redelik streng met hul kredietvereistes, terwyl baie mense skrikkerig bly om skuld te maak in hierdie onsekere tye. Dus kan die rentekoers-sensitiewe sektore (motors, meubels, eiendom, boubedryf) verlief neem dat herstel laat en moeisaam gaan verloop.
Daar bly dus baie onsekerheid oor hoe sterk hierdie herstel nou eintlik gaan wees, nie net nou nie, maar ook volgende jaar en in die jare wat volg. Dit maak ook die beleidsmaker toenemend versigtig. Die Minister van Finansies het sy fiskale beleid alreeds baie ondersteunend gemaak, met ’n begrotingstekort hierdie jaar van om en naby 8% van BBP. Daar is nie juis meer wat hy kan doen nie. Die SA Reserwebank kan nie juis die Rand probeer afdruk deur meer valuta te koop nie, aangesien sulke pogings gesteun moet word met die uitreiking van staatseffekte (om die gevolglike likwiditeitskepping te neutraliseer).
Die Minister laat egter die staatsskuld al fris styg, van 23% tot bo 40% van BBP binne afsienbare tyd, en is daar nie juis veel ruimte om nog meer te doen nie. Al uitweg is om rentekoerse verder te sny, mits die daling in inflasie voortgaan wat wel verwag word. Verdere rentekoersdalings kan dalk verligting bring vir die ekonomiese herstelproses, veral as die Rand in komende maande verder sou versterk tot 6-7:$ en dan ook volgende jaar daar vertoef.
Hierdie verskuiwings in wisselkoers en rentekoerse sal wenners en verloorders in die ekonomie weer vinnig plekke laat verwissel. Dit is ’n baie dinamiese besigheid waar ’n mens moet kophou om te verstaan wat nou weer besig is om te gebeur. ’n Groot verantwoordelikheid in hierdie opsig rus op beleidsmakers se skouers, om tog veral die regte besluite te neem soos die ekonomiese gebeure ons byna daagliks konfronteer met nuwe uitdagings.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.